Kanker herbesoek.
Onlangs grawe ek deur 'n hoop foto's ,soos ek weer eens skrop en uit sorteer aan my lewe. Daar ontdek ek toe twee foto's van my, die een is geneem in 2014 ( die jaar waarin ek met kanker gediagnoseer is) en die ander in 2015 (so een maand na my kanker uitgesny is en ek op die punt was om met my behandeling te begin). Hoekom noem ek nou dit? Nee, dit is nie 'n selfbejammerende gesanik wat gaan volg nie. Wat ek ontdek het, nou dat ek met vars oë kyk na die foto's is dat ek baie gesonder lyk in die 2015 as 2014. Vir ander mense mag dit logies klink, maar baie mense wat met borskanker gediagnoseer word, sal weet dat die diagnose dikwels 'n skok is. Dit is nie net 'n skok omdat jy voel asof aan jou 'n doodstraf uitgedeel is nie, maar dit is 'n skok omdat jy eintlik nie gedink het dat jy siek is nie. Behalwe vir 'n knoppie of 'n onrustige stemmetjie in jou kop was daar nie erge simptome wat jou laat dink dat jy 'n potensieel lewensbedre...