"Die oggend stond het goud in die mond."
"Die oggend stond het goud in die mond." My wekker het, soos baie ander oggende, weer vanoggend vieruur afgegaan. Ek het dit doodgedruk, soos ek moet. Dit is net die pre-alarm – die een wat my uit my diep slaap lig en herinner dat die wekker weer oor ‘n halfuur gaan alarm maak. Jou waarlik waar oor dertig minute dreun die mobiele toestel langs my bed weer, Hierdie keer lig dit my in dat ek nou `n besluit moet maak of ek nog wil lê en waarskynlik laat gaan wees en of ek die knusheid van my bed wil verlaat om ‘n dinamiese oggend voëltjie te wees – slaggereed vir die dag. Dit is ‘n mooi gedagte, maar ek druk die ding dood en nou beweeg ons in die tien minute vir tien minute alarm en dit hou vir hele halfuur aan. Teen vyfuur staan ek op, maar die warm van die duvet sit nog aan my lyf. Bas, my Golden Retriever, hyg al ‘n geruime tyd en die donker dame, Sofia, se vinnige tree op-en-af in gang is hoorbaar aan die geritsel van haar toonnaels. Ek is nog onvas op my voete en die na...