Die Mens leer nie...
Die Mens leer nie…
“Juffrou! Juffrou, hoekom
moet ons van die geskiedenis leer nie? Die mense is in elkgeval almal dood.”
Hierdie kwelvrae vrae en
insiggewende opmerkings is ‘n daaglikse bederfie vir ‘n geskiedenisonderwyser.
Dit grens aan die stellings wat taalonderwysers moet aanhoor:
“Hoekom moet ons Afrikaans
leer? Ons praat dit dan elke dag.”
Jy kan probeer om aan die kind
te verduidelik dat jy die foute van die verlede wil identifiseer sodat jy dit in die toekoms kan vermy of groei as samelewing. Jy weet egter dat daar geen
antwoord is, wat jy moontlik vir die kind kan gee om die kwelvraag te
beantwoord nie, wat nie met ‘n ewe domastrante respons ontvang sal word nie.
Gewoonlik, sug jy net diep en raak sommer bietjie moeg met die wete dat hierdie
leerder voor jou in die klas ‘n bloudruk van die deursnit mens is. Die ding is,
die mens leer nie en as daar geleer word, is dit ‘n besondere stadige proses.
Kyk, ek praat nie van somme
maak en robotte bou en kunsmatige intelligensie programme uitdink nie (wat altyd wil
inmeng met ‘n mens se kreatiewe proses en eie ontdekkingsreis). Ek praat van
leer, leer oor die belangrike dinge in die lewe – liefde, genade,
regverdigheid, deernis, respek, vergifnis, vertroosting, eerlikheid, openhartigheid en
barmhartigheid. Ons leer nie. Ons sien nie ons foute en wysig ons optrede nie –
nie mense nie, en ook nie die groter organisme van die groep of ekslusiewe
gemeenskap nie. Ons word getoets, ons word geleenthede gegee om te groei.
Dikwels maak ons dit deur die toets net om kort daarna al die antwoorde weer te
vergeet.
Gister sit ek in my tuin in
die sagte laat-herfs sonnetjie en werk. Daar is voëltjies wat tjirp en ek bewonder
die pers irisse wat stadig besig is om deur die grasse te stoot. Dit is waarlik
‘n salige oomblik, maar elke nou en dan word die geluksaligheid gebreek deur ‘n
skril gebiedende stem van die hoekhuis:
“Jan! Jan! Jannnnn! Kom hiérrrr!
Hoekom antwoord jy my nie as ek jou roep nie? Wat het jy hier aangevang?”
“Jammer, Mevrou,” volg die respons.
My hemelse oomblik is bederf
en waar ek God se gawes vroeër geniet het, word ek nou teruggedwing na my klaskamer
en gekonfronteer deur daardie domastrante kind wat dink almal in die
geskiedenis is dood. Die vrou in hoekhuis is ‘n oorblyfsel uit die verlede. Sy
is totaal onkrities en onbewus van hoe genade en ingryping van bo haar, haar
toekoms en haar mense gered het. Sy besef, of sy onthou nie, dat hier waar sy
steeds bevoorreg in haar huis op die hoek staan met ‘n voorwaarde gekom het,
nie van ‘n politieke bestel nie, maar van God.
“Verander jul weë en besef
dat almal - ongeag Jood of vryman, man of vrou...(swart of wit) – afbeeldings van
God is.”
Of ons nou onsself bevind by
Bloedrivier, by Paardeberg, in 1910 in Pretoria, of 1994 in ‘n lang ry op die
punt om `n kruisie te trek: “Verander jul weë!”
Dit vind egter nie plaas nie.
Arme Moses het dit oor-en-oor beleef. Die uitverkore volk wat telkens deur die
genade en liefde van God gered word, maar telkens vergeet, telkens ondankbaar
raak en telkens afvallig raak. Dit is die mens. Ons leer nie.
Ons kan die onreg van die
verlede aanhoor, maar nie daaruit leer nie. Ons kan hoor van oorlog en menseslagting.
Ses miljoen Jode raak net bloot rede vir ses miljoen Palistyne. Die Vroue en
kinders in die konsentrasiekampe, was weer rede vir uitsluiting en
onderdrukking. Apartheid raak rede om korrupsie, wanbestuur en misdaad te regverdig.
Die geskiedenis gaan nie oor dooie mense nie. Dit gaan oor die les wat niemand
wil leer nie en gevolglik sonder einde in die toekoms herhaal. Die mens bly
vergeet:
“Ek is die Here jou God wat jou uit Egipte, uit die plek
van slawerny, bevry het. Jy mag naas My geen ander gode hê nie.” (Eksodus 20:2)
“Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy
liefhê en jou vyand moet jy haat.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle
vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle
kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom oor
slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd
doen.” (Matteus 5: 43-25)
Aan die vrou
in die hoekhuis. Ek verstaan. My ouma het ook so op tagtig op die stoep gestaan
en uit desperaatheid geskree: “Brian! Briaaannn!” As hy egter opgedaag het, was
die verligting groot. Hy was die een wat haar gehelp het, wat vir haar ‘n brood
gaan koop het toe sy nie meer kon nie. Sy het steeds gedink sy was die “missus”, maar
ek dink hulle het besef dat hulle mekaar nodig gehad het. Hy was ook daar by
haar begrafnis en het saam met ‘n ander swartman wat my ouma geken het, Mesizwile,
haar kis help dra.
Kom ons probeer
ten minste leer sonder om te vergeet. Kom ons besef eens en vir altyd dat in
Suid-Afrika ons nie een die reg het om mekaar te verneder en te stereotipeer
nie. Ons almal se kaste is vol geraamtes. Kom ons besef dat ons mekaar
nodig het en behandel mekaar met respek,
al is jy dalk die werkgewer en die ander die werknemer. Waar ons is en wat eendag
van ons gaan word, is net genade!
Laat ons
die les onthou: Verander jul weë en besef dat almal en alles ‘n afbeelding van God
en God se grootheid is. Leef in respek, liefde en vergifnis met mekaar saam.

Ware woorde. Ek geniet elke skryfstuk.
AntwoordVee uit