Vind `n mens God in die gewone of vergestalt God in die gewone, dit is die vraag?
Vind `n mens God in die gewone of vergestalt
God in die gewone, dit is die vraag?
Hierdie stukkie is persoonlike refleksie na lange stilwye en mag die lesers my eie waan en gevoeligheid vergewe soos ek opnuut besin oor die titel van my Blog en boek, God in die Gewone.
Jô, dit is weer Sondag en ten minste is die skottelgoed gewas en meeste van
my klere hang aan ‘n hanger. My huishouding voel bietjie asof dit vinnig met
superglue aan mekaar gegom is, maar ten miste lyk my tuin netjies na `n Saterdag
se harde werk. My maand se loon het soveel van my geëis oor die afgelope twee
tot drie jaar dat die gewone in my lewe agterweë gelaat is, maar terselfdertyd om
aandag begin skree het. Trouens dit is nie net die gewone nie, maar eintlik ek
wat begin voel het dat ek verdwyn tussen die moet doen take en die moet
teenwoordig wees take. My waarneming en waardering vir die alledaagse het
heeltemal verdwyn.
Onlangs is ek bewus gemaak van ‘n boek met die titel “Vind God in die
gewone”. Nee, ek het dit nie gelees nie. Dit mag ‘n treffer in eie reg wees. Ek
het dit nie gelees nie uit, as ek eerlik mag wees, kleinlikheid. Die titel is
so ongelooflik naby aan my eie 2021 boekie “God in die Gewone” (die produk van
meer as 15 jaar se refleksie stukkies) dat ek nogal aanstoot geneem het. Volgens
kunsmatige intelligensie stem dit baie ooreen, maar is daar wel verskille in
aanbieding en strekking. Ego en trots, veral as jy trots was op jou produk en
bydra, is ‘n moeilike ding om te skud. Ek moet nie te min daardie trots
skud, want in die heelal behoort geen een gedagte aan een mens nie. Nee, elke
gedagte, inspirasie en uitkoms is eintlike afkomstig van ‘n heilige bron en nie
die besit van een mens om op beslag te lê nie.
Dit gesê het ek baie, eintlik onnatuurlik baie aandag aan die verskil
tussen die twee boek titels gegee, naamlik “vind”. Dit mag ook in die “vind”
wees waarin die twee boeke konseptueel verskil. “Vind” verbeel iemand in beheer
van die speletjie, ‘n aktiewe rolspeler en speuder, wat soek na leidrade om
die verskuilde te sien. Dit is egter nie my uitgangspunt nie, want ek is so
mens wat hoe harder ek soek hoe minder vind ek. Trouens, as jong en kranige hokkiespeler het ek tot die besef gekom dat ek eerder moet probeer om nie die doelhok
te tref nie as ek my bal in die boks wil hê. Dit was `n bewuswording dwarsdeur
my lewe, dat my doelbewuste doelwitte, ambisies en aspirasie nie deur my
verwesenlik kan word nie. Ek kan dit nie soek nie, nie met tonnelvisie najaag
nie en niks uit my eie verwesenlik nie. Wat ek is en wat ek word is vir my maar
‘n refleksie in ‘n spieël. Ek kan daarin nie meer sien as wat aan my ontbloot
word nie, maar as ek leer om dit te waardeer wat voor my is, mag God kies om in
vlietende oomblikke daarin vergestalting te kry.
Dit is in die “vind” waar ek met ander verskil. Ek voel nie God moet gesoek
word nie. Ek voel God is teenwoordig en dat dit ons is wat te besig is, te veel jaag,
te vol is van onsself en ons lewe om God te sien. Dit is die gruwel van die
moderne lewe, elke oomblik en elke minuut word gevul met inligting en beelde,
vals of waar, dat ons nie tyd het om God se teenwoordigheid te voel nie. Ons gee
ons oor aan angs en onsekerheid in plaas daarvan om net in oorgawe stil te raak
om die genade en liefde wat God deur die gewone om ons aan ons gee, te ervaar.
My man sê altyd dat sy Godservaring is die van `n God van ver – een wie se
naam so heilig is dat die gewone mens se taal dit nie kan omskryf nie. Die God
van ver word openbaar in eie tyd, nie mense tyd nie. Ek kan nie God vind nie, God
kan my roep na die braambos, God kan my hand vat op die straathoek, of ontmoet
in `n ander se oë of in die behaaglikheid om `n etenstafel, maar ALTYD is die
genade, die liefde, die onthulling en redding in die hande van bo.
Ek was in die laaste twee jaar oorweldig en gedompel in die soeke na
betekenis in ander sake, dat ek nie altyd in ontvanklikheid vir die genade
geleef het nie. Tog, voel ek dat God deesdae my meer en meer dwing om my oë opnuut
oop te maak om te getuig dat God, die wese wie se naam ons aarsel om te sê, met
ons is en altyd sal wees.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking