Die barmhartige Samaritaan

 Die Barmhartige Samaritaan



Ek gaan nou ver terug in my eie lewe, die skrikwekkende is dat dit amper dertigjaar gelede is. Ek gaan so bietjie uit my ervarings uit en oor die dinge wat ek destyds studeer het, praat. In hedendaagse akademie is dit gedateer, intussen het hulle slimmer geword en wat ek studeer het, pas nie noodwendig by moderne temas in nie. Tog, wil ek vandag met jou en ander gedateerde mense oor die “Gelykenis van die barmhartige Samaritaan” praat.

Ek het, soos ek gesê het dertigjaar gelede, my sogenaamde Meestergraad in Nuwe Testament en die 'Opdrag tot Vyandsliefde' voltooi. Ek het die evangelies bestudeer en oor dit en dat van die Matteus evangelie gelees. ‘n Interessante meevallertjie wat ek in die verlede raak gelees het is dat hulle die eeu na die dood van Jesus beskou het as ‘n periode van formatiewe Judaïsme. Soos dit vir my in my studie geklink het, was daar in die eerste eeu na Christus baie kompetisie oor wie oor die ware interpretasie van die Wet beskik het. Daar was baie “sektes”, soos die Fariseërs, Sudaseërs, Liviete en selfs Samaritane en dan was daar die volgers van Jesus. Almal het geglo hulle het die antwoord beet.

Hierdie brokkie was vir my baie relevant, want in my studie het ek veral gefokus op Jesus as vervulling van die Wet en Jesus se interpretasie word dikwels in die Bybel geopponeer deur die Fariseërs of Saduseërs. Maar ek is nou nie gemoeid met my studie nie, maar met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan wat in Lukas 10: 25-37 geplaas is. Meeste van ons ken hierdie verhaal van die man wat op sy reis deur rowers aangeval is en gelos is vir dood. Gesiene mense in die kerk en die gemeenskap het telkens op hul reise by hom verby gegaan, maar hom vir dood gelaat. Dit was die sosiaal verworpeling, die Samaritaan, wat hom gesien het en hom oor die man bemoei het. Hy hom tot beterskap versorg.

Hedendaagse interpretasie maak baie van die feit dat die Samaritaan van gemengde bloed was en in my era is hy as ‘n heiden beskou. Beide hierdie kwessie is myns insiens onbelangrik. Sy ras en geloofsinterpretasie is onbelangrik, want dit blyk Samaritane was Jode, net nie hoofstroom Jode nie, wat belangrik is dat die Samaritaan nie ‘n posisie in die gemeenskap gehad het om te verdedig nie. Met wie hy gesien word en wie hy help het, het nie in die groter gemeenskap gewig gedra nie. Hy kon help wie hy wou, hy was nie ‘n priester of ‘n Leviet nie. Die gemeenskap het nie verwagtinge van hom gehad nie. Sy goeie dade was as’t ware onbelangrik omdat hy geen rol in die gemeenskap vervul het nie en dus nie `n belange groep gehad het aan wie se verwagtinge voldoen moet word nie. Mens dink nie altyd daaraan nie, maar dit was eintlik makliker vir die Samaritaan om die man te help as vir die Priester en die Leviet omdat hulle meer gehad om te verloor as die Samaritaan.

Waar laat dit ons in die vraag na wie ons naaste is en wat werklike barmhartigheid behels? Mens wil jou graag wip vir die Priester en Leviet - die een wat die mense se waardes moet rig en die wet moet interpreteer in die gemeenskap. Mens wil sê hulle was selfgesentreed en behep met hul posisie, maar eintlik is niks so eenvoudig nie. Plaas jouself in die posisie van die Priester en Leviet. Sou jy die bergie langs die pad help soos die Samaritaan die gewonde man gehelp het. Ek sou beslis nie, nie omdat ek ‘n slegte mens is nie,  bloot uit pragmatiese redes. Sal ek my huis oopmaak, my eie kinders ontwrig vir ‘n familie in nood. Ek weet nie. Sou ek ‘n kind in nood inneem, versorg en hoop gee. Dit bly ‘n ope vraag. Ons sal almal wil bevestigend antwoord op die vrae, maar as jy nie in die posisie is nie, weet jy nie wat jy sal doen nie.

Wat is dan die punt van die verhaal as ons nie net die Priester en Leviet kan veroordeel vir skynheiligheid nie, soos moontlik in die era van formatiewe Judaïsme verwag is nie (Sies, die twee is tot skande gesteek deur die laagste van laag, die Samaritaan). Dit is om hul op te roep tot meer. Dit is die kritiek in die verhaal. Dit is waar dat die Priester en Leviet belangrike mense in die gemeenskap is. Dit is hul las en verantwoordelikheid. As gemeenskap moet ons hul verantwoordbaar hou om hul amp te vervul en om vir meer as status en aansien te leef. Ons moet hul herinner daaraan om die mens aan die anderkant van die straat te sien. As ons nie van hul verwag om verantwoordelikheid te neem nie en net wag vir 'n ander weldoener om die risiko te vat om te help, deel ons hulle skuld.

As jy die gelykenis van die barmharitge Samaritaan toepas op jou werkplek en die mense om jou, sal jy toeken dat jy ook dikwels by gebroke en geroofde mense in jou werkplek verbystap. Jy luister en ondersteun, maar jy dring nie aan op empatie van die werkgewer nie, selfs nie eens geregtigheid nie. Waarom nie? Soos die priester en Liviet het jy ook gemeenskapsverwagtinge om aan te voldoen. Dit is maklik om van ver te kritiseer, maar moeilik om van naby te vervul.

Ons leef voorwaar in ‘n moeilike wêreld. Daagliks word ons gekonfronteer deur mense wat weg-eet aan hulself weens een of ander samelewingsgebrek. In ons midde is daar mense wat uitskree om hulp, maar wie ons nie sien nie, omdat hulp aan hulle ons lewenspaadjie sal bemoeilik. Hier dink ek aan kinders wat fisies of sielkundig mishandel word, aan mans wat emosioneel en fisies deur vrouens mishandel word (en geen publieke stem het nie) en van hul reg tot hul kinders ontneem word, vroue wat aandring op gesinstyd maar voorbarige en onnodig in die werkplek beskryf word. ‘n Mens kan aangaan oor die samelewingsonregte wat daagliks gebeur waaraan ons niks doen nie, omdat die trots en aansien wat ons kan verloor gewoon te veel is.

Kom ons aanvaar, gekonfronteer deur moeilke situasies is meeste van ons Priesters en Liviete, wat verby loop. Dit is ook belangrik om te weet dat in die periode van formatiewe Judaïsme die Bybelboek ook heelmoontlik die huigelagtigheid van hierdie twee ampte wou uitbeeld, maar deur dit te erken ontwikkel ons empatie vir hul dilemma, maar ook die menslike situasie. Tog, na empatie en begrip, wil mens vra en aandring daarop dat mense in mag of met sosiale aansien vir eens hul posisies relativeer om werklik priesters en profete vir die wêreld  te wees.

As die Gelykenis van die Barmhartige Samaritaan ons iets leer, is dit dat ons meer moet probeer wees as wat die samelewing van ons verwag en dat ons dié in mag verantwoordbaar moet hou om op te staan en uit te kyk vir die wat nie vir hulself kan opstaan nie.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Vind `n mens God in die gewone of vergestalt God in die gewone, dit is die vraag?