"Die oggend stond het goud in die mond."
"Die oggend stond het goud in die mond."
My wekker het weer vanoggend vieruur, soos baie ander oggende afgegaan. Ek het dit doodgedruk, soos ek moet. Dit is net die pre-alarm – die een wat my uit my diep slaap lig en herinner dat die wekker weer oor ‘n halfuur gaan alarm maak. Jou waarlik waar oor dertig minute dreun die mobiele toestel langs my bed weer, Hierdie keer lig dit my in dat ek nou in die posisie is om`n besluit te kan maak of ek die knusheid van my bed wil verlaat om ‘n dinamiese oggend voëltjie te wees – slaggereed vir die dag. Dit is ‘n mooi gedagte, maar ek druk die ding dood en nou beweeg ons in die tien minute vir tien minute alarm en dit hou vir hele halfuur vol.
Teen
vyfuur staan ek op, maar die warm van die duvet sit nog aan my lyf. Bas my
Golden Retriever hyg al ‘n geruime tyd en die donker dame, Sofia, se vinnige tree
op-en-af in gang is hoorbaar aan die geritsel van haar toonnaels. Ek is nog
onvas op my voete en die natuur roep. My honde het geen geduld nie en dit is
amper ‘n geval van met “`n kug en `n sug en `n diep asemtuig” blaas ons die
badkamerdeur morsaf as jy nie nou vinnig kom nie. “Ok, ok” sê ek. Sophia
hardloop my amper onderste-bo soos sy eerste by die deur wil wees. Sy moet
altyd eerste wees – heel afwyserig op daardie manier. Bas wil ook graag eerste
uithardloop, maar sonder uitsondering moet sy die kalklig steel. Ek wonder soms
of ek nie dieselfde is nie.
Hierdie
oomblik van rare selfkritiek rig my aandag op belangriker sake, naamlik die
maak van ‘n voortreflike koppie koffie. Nie te sterk nie en die te swak nie –
net reg! Ek het die seldsame vermoë om so iets te maak, nie om my eie beul te blaas
nie. Die koffie is skaars aan die perkuleer of die honde gehyg is weer om my.
Dit is meer Basman wat my wil bewusmaak van my eintlike taak, hulle ontbyt. Hy
reken dat die man veel beter is vir hierdie takie, maar dié lê nog in die bed.
Getrou aan myself gooi ek droë honde koekies in die bakkies. Onmiddellike skok
en afkeur volg. “Net koekies?” vra hul oë desperaat. “Dis vir jul eie beswil” antwoord
ek, soos ek aangaan met my oggend take.
My
koffie is amper reg. Die koppies is warm gemaak met kookwater en die melkbeker
gee ‘n finale draai in die mikrogolf. Die honde na heelwat vermaning kou deur hul
laaste koekies en ek loop met twee stomende koppies koffie slaapkamer toe. “Hier’s
jou koffie,” sê ek vir my man en ‘n kreun van erkenning volg. Dit is nou 5:17.
Dit beteken dertien minute van vrede. Rustig drink ek my koffie. Elke slukkie
spoel aromaties en perfek oor my palet.
Kort
voor lank is die honde terug. Basman plons neer op sy matras en rol en kreun
vir effek. Sophia spring op die bed, draai in die rondte en vind dan haar lê,
styf teen my met haar Duitse herderhondkop oor my enkels gedrappeer. Dit is
donker en mistig buite, maar by my is dit knus, warm en gesellig. Hierdie is ‘n
bykans perfekte oomblik met my man wat weerloos aan die slaap bly klou, ek wat
die gemak van oordenking beleef en my honde wat in getrouheid en gebondenheid
die oggend-oomblik met hul mens beleef.
Hierdie
oomblikkies is geseënd. Dit is genade en dit bly met ons. Môre-oggend is dit
weer ek teen die daeraad, maar ek weet as ek my oorgegee het en weer kom lê om
te reflekteer oor die lewe sal my getroue honde daar wees en hul warm lywe teen
my in nessel. Daar sal ‘n gekreun wees en sagte asemhaling van honde-saligheid.
Ek sal net stil sit, die aroma van my koffie in teug, ‘n sluk vat en sê: “Dankie,
Heer. U het dit goed gemaak. Sela Amen.”

Opmerkings
Plaas 'n opmerking