Die sagte rimpeling van verandering...
Dit is elfuur op die vooraand
van nog ‘n nuwe jaar en ek sê vir my dogter goeie nag. Ek was nog nooit groot
op wakker bly deur die aand, net om die volgende jaar wat voel soos hierdie
jaar in te lei nie. Sy maak ‘n grappie en sê: “Mamma moet lekker slaap en ek
sien Mamma volgende jaar.”
Volgende jaar is mos altyd
die jaar met die belofte, die jaar wat soveel beter as hierdie jaar gaan wees.
Volgende jaar het die groener gras. Die probleem met ouer word, is dat jy ‘n
tamheid ontwikkel vir nuwe jaarswense aangesien die werklikheid dat die
volgende jaar heel moontlik niks beter gaan wees as die huidige jaar nie, al
vir jou baie duidelik geword het. Al wat jy eintlk met sekerheid kan sê, is dat
dit dieselfde maar anders gaan wees. Tog as ek my lewenstamheid daar laat en
terugkyk oor die laaste dertig jaar se nuwe jaarswense kan ek nie help om te
glimlag vir die gewaarwording dat verandering stadig, amper onsigbaar oor ons
gerimpel het nie. Sonder dat ons dit besef, staan ons vandag in ‘n globale
samelewing gekenmerk deur konflik en korrupsie, in ‘n Suid-Afrika waar die gras
tog as jy mooi kyk wel effens groener begin lyk.
Oor die afgelope Desember het
ek drie ervaringe gehad wat my onkant gevang het. Dit was asof ek gaan slaap
het en wakker geword het, volgende jaar, in ‘n ander Suid-Afrika. Die
verandering was so subtiel, meegebring deur ‘n sagte rimpeling, dat jy dit nie
sien kom het nie. Vroeg in Desember moes ek my man na ‘n lang dag se NSC eksamen-merkery
by die lughawe gaan haal, want sy vlug uit Johannesburg is weens ‘n staking by die
SAL/ SAA-lugredery vertraag. (Ek weet baie van julle sal grinnik en wonder van
watter verandering ek nou juis wil praat.) By die lughawe aangekom skuif ek
doodmoeg verby ‘n klompie ander wagtendes by die aankomshek na ‘n oop sitplek.
Soos ek verby skuif sien ek ‘n vrou en ons maak oogkontak, onmiddellik herken
ek haar as iemand, soos ek, ‘n prater. Ek skuif egter verby na ‘n sitplek ‘n
paar sitplekke in die ry af. Daar sit ek en wag... Die vlug vat toe nog langer.
Soos dit maar met wag werk,
verwissel mens dikwels posisie, dan is jy hier en dan is jy daar, maar soos dit
bestem is om uit te werk, het ek en die vrou uiteindelik by sitplekke langs mekaar
beland. Ons begin gesels, want dit is wie ons is. Ons gesels oor vertraagde
vlugte, oor hoekom ons hier is. Sy vertel sy is daar om haar man op te tel. Ek
ook. Hulle het twee huise bo in Jo-burg en een hier onder in die Kaap. Sy pendel
ook baie, maar sy anders as haar man vlieg eerder SAFAIR, maar haar man...nee,
hy sweer by SAL. Hy is glo in lewenslange lid van hul frequent flyer-klub. Sy het glo vir hom al male sonder tal gesê wat
is die punt van die frequent flyer punte
as daar altyd iets verkeerd loop met lugredery.
Voor ons is daar nou
beweging. Dit lyk asof ons mans se vlug geland het. Passasiers kom deur die hekke
geloop. Ons gesprek verskuif na die mense wat uitloop, skertsend bespreek ons
die toestand van elke passasier. Hierdie een lyk doodmoeg, daardie een wil nou
net by die huiskom. Verby ons stap ‘n baie lang swart man. Ek verkyk my aan sy
lengte, sy verkyk haar aan sy wit broek wat die klem op sy lang bene plaas. Ons
lag en sy gee my ‘n goedige klappie op die skouer. Sy verklaar dat haar man ook
so lank is, natuurlik dra hy nie wit broeke nie. Twee sitplekke van ons sit ‘n
swart man wat ek uit die hoek van my oog kan sien, verluister hom aan ons
gesprek. Haar man kom uiteindelik by die hekke uit. Hy is inderdaad lank. Ons
groet mekaar soos ou vriendinne en ‘n paar minute later kom my man doodmoeg uit
geloop. Ek aan die ander kant is nie meer so moeg nie. Ek vertel hom van my
ervaring en hy sê dat dit dan haar man moes wees wat hy in die wagkamer ontmoet
het, ‘n aangename swart man wat lewensgetrou aan SAL en Suid-Afrika is.
My ervaring by die lughawe
was die eerste gewaarwording van die verandering wat so oor ons gerimpel het en
die rivier stadig voortgedryf het. Die gesprek het my energie gegee, want
uiteindelik het ons in Suid-Afrika daardie punt bereik dat twee vroue van verskillende
rasse op ‘n lughawe kan sit en gesels asof hulle sielsgenote is en die kleur van
hul vel nie die trant van hul gesprek bepaal nie.
My tweede ervaring was met my
dogter se gradeplegtigheid by Universiteit van die Wes-Kaap. Sy het haar
Meerstergraad daar voltooi. Dit was haar eerste gradeplegtigheid, want haar
eerste een by die Universiteit van Stellenbosch was tydens Covid-tyd en almal
het in pajamas voor die rekenaarskerm gesit terwyl die virtuele
gradeplegtigheid homself afgespeel het. Hierdie gradeplegtigheid was die direk
teenoorgestelde. Dit was ‘n geleentheid vir aantrek en spog. Vir baie ouers en
studente was hierdie geleentheid ‘n oomblik om te kan sê: “Ons het dit gedoen!”
Ouers het hulle kinders met ‘n jelelê
toegejuig en ander het in tradisionele klere met knopkierie in hand die oorwinning
oor die oënskynlike onoorwinbare Westerse meerderwaardigheid beklink. Tussen
dit het ons gesit, die sedige wit gesinnetjie, ek moet verklaar daar was ‘n
klompie ander prim-en-propper wit gesinnetjies
wat daar gesit het. Die rimpeling lê in die aanvaarding, dat ten spyte van ons sogenaamde
verskil in voorkoms en verdeelde geskiedenis, ons nou en vandag dieselfde vreugde
en dieselfde ervaring deel. Aan die einde van die plegtigheid begin die vrou
wat langs my gesit het ‘n gesprek met my twaalfjarige. Sy vertel vir haar dat
sy moet hard werk en dan sal sy ook eendag daar kan staan...
My laaste ervaring is in die
teater. Ons het gaan kyk na My Fair Lady in die Artscape. Oppad soentoe het my man
nog die kriekettoets tussen Pakistan en Suid-Afrika gevolg waarin KG Rabada en
Marco Jansen as laaste hoop, die wa vir Suid-Afrika deur die drif getrek het.
Die Artscape, ou Nico Malan Teater, is ‘n majestieuse ou apartheidkonstruksie
waarvoor ons dankbaar moet wees, maar dit is eintlik die kuns wat daarin beoefen
word waarvoor ons moet dankie sê. Die produksie was uit die boonste rakke en
die saal was gepak. Langs my het ‘n dame uit Kimberley gesit. Sy en haar man
het vir hulle seun in Langebaan kom kuier. Haar man het my man nog ‘n handdruk
gegee soos hulle verby geskuif het na hulle plekke. Ons het lekker gesels voor
die vertoning. Hierdie vertoning met sy verteenwordigend toneelgroep het Suid-Afrikaners
van heinde en verre van elke ras en oriëntasie in ‘n gemeenskaplike genieting
van die kunste saamgebring. Dit is die waarde van kuns, en sport. Tog wil ek
weer eens verklaar dat vandag anders as 1995 toe die wêreldbeker ons kunsmatige
as Suid-Afrikaners saamgebring het, is dit die sagte rimpeling wat ons in 2024
so ongesiens in aanvaarding van mekaar saambring het en verseker dat ons spasie
met mekaar kan deel, kunste en sport saam kan geniet en mekaar as mense kan
ontmoet.
Hierdie is net my ervaring,
en ja ek weet ek praat en sien ook nog ras, maar nie as ‘n punt van verdeling
nie. Hierdie land van ons en die mense in die land het in die afgelope dertig
jaar storms ervaar, ons het hoogtepunte gehad, laagtepunte gehad, ons het vir
lang periodes twee, vier... ses ure sonder krag gesit. Ons het nogsteeds misdaad
en plaasmoorde. Ons het nogsteeds rassisme en haat. Tog het ons gegroei deur
elke staan en val. Ons het mekaar opgehelp. Ons het begin saampraat en ek glo
dat ons vandag meer ooreenkomste met mekaar sien as ooit van te vore.
Ja, so op die vooraand van
2025 kan ons verklaar dat ons mekaar volgende jaar gaan sien en alles gaan
dieselfde wees, maar anders. Verandering is ‘n rimpeling, ‘n sagte beweging in
tyd, meegebring deur die Gees van God wat soos ‘n sagte briesie hoop, liefde,
aanvaarding en vergifnis oor ons lewens waai. Verandering kan nie forseer word
nie. Dit moet net met ons gebeur.
Pragtig. Baie spesiaal.
AntwoordVee uitEk geniet jou gesprekke! Eg, warm en onpretensieus! Mag 2025 tog bietjie beter wees as die voriges. Hou aan skryf en mag die muse jou meer gereeld besoek. Voorspoed!
AntwoordVee uit