Van vergroeide graf tot graf: Die vergete vroue-voetspore deur ons erfenis.
Ek het jare terug my feministiese bokshandskoene opgehang, nie uit ‘n besef of bewuswording dat die uitgediende manlike idioom dominant is en aanvaar moet word nie. O! Nee genugtig daarmee sal ek nooit kan verlief neem nie. Ek het hoeka ‘n hele paar mane gelede ‘n manlike kollega gehad wat die meer jeugdige Karen eenkant toe getrek het en haar die lig rakende haar dwalinge wou laat sien. Ek is eenvoudig vertel dat daar geen manier is hoe die vrou ooit meer as ‘n tuisteskepper kan wees nie. Hoewel die man ‘n stewige boks op die neus verdien het, het ek hom net met neerbuigende verdriet aangehoor. Nie te min my feministiese bokshandskoene hang aan die hak omdat ek deeglik besef dat man en vrou eintlik deel van dieselfde asem is. As ek egter gekonfronteer word met verhale van die vroue van die verlede oorval ‘n hartseer my en ‘n vlam word in my aangesteek om hulle verhaal tog ook in al haar glorie (vanuit my perspektief) te wil vertel.
Ek is tans besig om die geskiedenis van die skool waarby ek werk na te vors. Die skool is bykans 150 jaar oud. Die taak om die geskiedenis na te vors is heel oorweldigend en ek word kort-kort getref met ‘n diepe bewuswording dat ek iemand gaan te nakom. Tog is my blywende indrukke van die skool se beginjare, die van ‘n meisieskool wat ontstaan het weens onbaatsugtige (soms streng) onderwyseresse. Baie van hulle was produkte van die Hugenote Seminarium en beïnvloed deur die idees van Andrew Murray. Die rol van onderwyseres en godsdienstige versorger is in hul opleiding vermeng en baie het hulself in hul latere lewe as sendelinge of onderwyseresse by sendingstasie bevind. Hulle het dikwels nie lank geleef nie. Siektes of omstandighede het hulle lewe geëis. Baie van hierdie dames was ongetroud met nie ‘n kind of kraai nie, hulle name sou net voortleef in die vertellinge van diegene wie hulle tydens hul lewens geraak het.
Die verhale van Elizabeth Barker, Borrie Retief en Johanna de Vos (getroud Daneel)
spook tans by my. Die dames het die weggebaan. Hulle het skooltjies begin en sendinggemeentes
gedien, tydens die oorlogsjare het hul lojaal gebly en tydens epidemies het hul die
mense versorg dikwels ten koste van hulself. Hierdie vroue het beslis ‘n erfenis
gelaat maar hul name, behalwe miskien vir Borrie Retief, word skaars deur iemand
meer genoem.
![]() |
| Elizabeth Barker 1875 |
Elizabeth Barker was ‘n dogter van ‘n dominee uit die Londonse Sendingsgenootskap, George Barker, wat Suid-Afrika toe gekom het om sendingwerk te doen. Hy het in die Paarl die Zioniste Kerk begin. Elizabeth, sy enigste ongetroude dogter het die skool wat deur haar ouer suster begin is, die Ladies Seminary for European girls and young boys oorgeneem. Elizabeth Barker was heel suksesvol met haar skooltjie en het glo selfs ‘n paar bekende allumni gehad. Elizabeth wou egter aftree en haar skooltjie is later oorgeneem deur die Paarlse Opvoedingsinstituut. Elizabeth was steeds vir nog 'n jaar na die oorname die skoolhoof van haar skool. Elizabeth het al haar broers en susters oorleef en is langs haar pa in die Paarl in die begraafplaas van die Zioniste kerk begrawe. Die tragiese deel van die geskiedenis is dat hierdie twee figure nou vergete in die berg lê. Hulle het beide ‘n belangrike rol in die vormingsjare van die Paarl gespeel, maar hul grafte is verlate en onversorg. Ek het die ander dag daarvoor gesoek en het my tenk leeggery om haar graf te vind. My vraag is: In ‘n gemeenskap soos die Paarl moet hierdie erfenis nie bewaar word nie? Moet hierdie dame nie erken word, soos ‘n Totius, as iemand wat in vervloë dae geleenthede vir jong Engelse en Nederlandse dames geskep het nie.
![]() |
Deborah (Borrie) Retief |
Borrie Retief, een van die eerste koshuismoeders van HMS Paarl was ‘n produk van die Hugenote Seminarium. Sy het vir ‘n jaar of twee as koshuismoeder gewerk, maar het die skool in 1888 verlaat vir die sendingveld in Betsjoeanaland. Hierdie dame was ‘n voortreflike vrou. Sy is in die onbekende in saam met Mej. Murray en die twee vroue het alleen in Mochudi ‘n sendingstasie opgerig. Hulle onbaatsugtige diens en getrouheid, het die opperhoof Letswe na die Christendom oorgewen. Die twee dames het vas bly staan by hul gemeente deur ‘n pokke-epidemie, maar Mej. Murray is later verplaas. Borrie het telkens geselskap gekry in dominees-egpare wat die roeping opgeneem het, maar hulle het telkens of gesterf of ‘n verplasing gekry. Borrie se diens is tydelik deur die Suid-Afrikaanse oorlog onderbreek toe sy weggevoer en ingeperk is. Sy het egter weer haar pos hervat na die oorlog. Sy het self deur die Spaanse griep-epidemie by haar gemeente gestaan en oorleef. Sy het Mochudi in 1930 verlaat en in 1931 in die Kaap gesterf. Borrie se naam bly steeds voortbestaan in seker kerkgeskrifte as die heldin van die Sandvlakte. Sy het definitief ‘n voorbeeld van diens, liefde en getrouheid agtergelaat.
In die erfenis van my skool is dit egter Johanna de Vos wat ‘n beslisde
nalatenskap gelaat het. Produk van La Rochelle Meisiesskool en die Hugenote
Seminarium het sy in 1906 die posisie as prinsipale by Hoër Meisieskool beklee.
Sy was die skoolhoof tot ongeveer 1910. In die tyd het sy aan die skool ‘n
skoolwapen, slagspreuk en skoolkleure gegee. Sy het die skool verlaat vir ‘n
pos in Heidelberg en in 1912 het sy met die sendeling van Kranspoort, Johannes Daneel,
getrou. Sy was sy tweede vrou na sy eerste vrou, Engela Daneel, jonk gesterf
het. Johanna was na beriggewing baie geliefd en volgens ons 1919 jaarblad het
sy vir agt jaar lank die gemeente en haar man selfloos gedien, maar beswyk aan
die groot griep van die tyd. Johanna is op Kranspoort begrawe.

Mej. Johanna de Vos en die 1906
matriekklas

matriekklas
Vir ons skoolgemeenskap behoort dit sover te wees wat ons haar storie volg,
maar in my soeke na inligting oor Johanna de Vos (Daneel) het ek op ‘n onlangse
artikel van 25 April 2025 op Zoutnet afgekom wat verklaar dat hierdie sendingstasie en erfenisterrein by Kranspoort sonder
om ag te slaan op die wet gestroop is en dat die grafte van die sendelinge nog
daar is, maar geheel oorgroei is en amper onopspoorbaar is. Hoe tragies! Die
joernalis is glo in sy soektog deur verskeie bosluisspesies bespring. Kranspoort
‘n eens geliefde sendingstasie, waar die gemeente gedien is, dikwels met
teenstand van die regering, waar Dr Mamphela
Ramphele gebore is, is bloot net gestroop. Vir ons
skoolgemeenskap is dit ook tragies, want ‘n vorige skoolhoof wat ons hele
identiteit vasgeëts het, lê iewers vergete in Kranspoort in 'n skaars opspoorbare
vergroeide graf. Niemand sal haar graf besoek nie, niemand sal onthou hoe sy as
tweede vrou van ‘n sendeling hul gemeente tot haar dood gedien het nie, niemand
sal daardie graf en vrou verbind met die nautilusskulp wat sy soveel jare
gelede as ons embleem aangeneem het nie. Johanna de Vos (Daneel) is vandag,
soos so baie ander sendelingvroue en vroeë onderwysers, soos Elizabeth Barker,
niks meer as vergete as onder die Afrika bodem nie... tensy ons hulle onthou en
hulle grafte oopkrap en mooi maak vir geslagte na ons.
My navorsing maak my net meer en meer bewus van die komplekse verlede en
hoe vroue hul plek en rol in Suid-Afrika oopgekerf het. Hulle name word egter
nie in hoofletters in boeke of sierstene geskryf nie. Soms het hulle liefde en
gesinne ingeboet om ewigheidswerk te doen, maar ‘n verskil het hulle met hul
durf, sorg en deursettingsvermoë in soveel mense se lewe gemaak. Aan my oud-kollega
wil ek sê dat Suid-Afrika en die wêreld beslis ‘n armer plek sou wees as ‘n
Elizabeth Barker, Borrie Retief en Johanna de Vos (Daneel) met hul klein
voetjies agter die stoof gestaan het en slegs hul huisgesin bedien het.
Bronne:
GHS Paarl Annual of 1919


Aandoenlik!
AntwoordVee uit