Hoekom het jy bestaan jou boggelrug-spoegbek-sussie van my?

 My boggelrug-spoegbek-sussie was twee jaar my mindere om mee te begin.  Ons het albei gedy, gekruip, gespeel en die gewone paadjie van die lewe begin volg. Op drie het ek haar egter agtergelaat en my  grootword alleen voortgesit en sy het steeds daar op die bed bly lê met die doek aan en die spoegborreltjies om haar mond hoeke. Siekte en koors het veroorsaak dat die hekke van Eden vir haar toe gemaak is, amper sestien jaar het sy geword voor sy my finaal gegroet het, die sussie van my.

My ma het vier dogters gehad en van ons almal was sy die mooiste.  Haar velletjie was regtig so wit soos sneeu en haar lippies rooi. Haar hare was nou wel nie die kleur van ebbehout nie, maar ‘n baie donker bruin. Sy was ‘n ware sneeuwitjie, maar haar liggaam was egter ‘n post-moderne konstruksie van ongemaklike hoeke en boggels - ‘n kombinasie van skoonheid en disfunksie. Dit is wat sy was, daardie lyfie op die bed of in die stoel.  Die enkelle woordjies wat sy eens gespreek het, het stilgeword en nooit sou sy weer praat of kommunikeer in haar sestien jaar op aarde nie.  Sy sou nie weer kruip of krap of keelopsit nie.  Daar sou nooit van haar stories vertel kon word oor mense wat sy ontmoet het, aktiwiteite waaraan sy deelgeneem het nie of gesprekke wat sy gevoer het nie. Haar liggaam en haar fisiese teenwoordigheid was al wat sy gehad het en as dit nie meer daar was nie sou sy as’t ware ook nie meer wees nie.

****

Daarom my vraag hoekom het jy bestaan my boggelrug-spoegbek-sussie?  Die mensdom glo tog so erg daarin dat daar vir almal ‘n plan met hulle lewe moet wees en dat jou talente ontgun moet word om daardie plan te verwesenlik. Wat, volgens daardie argumentasie, was die plan met jou lewe dan?  Was die plan dat jy “hemelkindjie” ander dwing tot dankbaarheid dat hulle nie soos jy is of nie kindertjies soos jy het nie? Dit is nogal ‘n wrede plan. 

Daar is tog soveel clichés wat gebruik word om iemand, soos jy se lewe te beskryf en almal het een of ander goddelike aanslag. Jy is f ‘n hemelkind, onskuldig en rein f vir ‘n paar ongenaakbare mense die produk van die oersonde. Sussie, ek dink glad nie jy was so passief of so onskuldig nie. Ek dink die impak wat jy gemaak het, kan dalk nie gemeet word aan dade wat jy gepleeg het of woorde wat jy gesê het nie, maar dit kon gevoel word in die stilte, die oë wat na jou gekyk het (nie gestaar het nie) en die vrae wat jy ons laat vra het.

Passief was jy nie, want jy het f mense se ware kleure ontbloot f hulle nader aanmekaar gebring. Jou andersgeid het mense gedwing tot ongemak.  Mense vat nie goed aan die uitdaging van die norm nie.  Ek kan die brêkvisse in die Wimpy en die mense om ons se reaksie onthou.  Die gereserveerdes wat hul kinders onmiddellik stilletjies aangesê het om nie te staar nie. Daardie is die enigste drie woorde wat ek met oortuiging vandag kan liplees: “Moenie staar  nie!” Eintlik wou hulle almal staar en almal vra hoe jy ‘so’ geword het.  Eintlik wou hulle almal die geleentheid hê om te sê: “Shame”. Hulle wou almal die oënskynlike simpatie opvolg met ‘n praatjie oor God se plan en hoe God sulke beproewinge (dit is nou jy) stuur vir diegene wat dit kan hanteer.  Hulle wou almal… maar dit was altyd ‘n Vaneshri Govender of verwante familie wat nader gekom het en vertel het hoe hul nefie, Pernesh Naidoo ook so gebore is.  Ma het hul nooit reggestel en gesê dat jy normaal gebore is nie, want wat sou dit nou saak maak. Ja, ons het halfte van Chatsworth so in die winkelssentrums ontmoet en geleer van ‘n neef of niggie of kleinnefie wat nes jy was.  Ek het as kind baie van Indiërs gehou, ten minste het hulle nie gesê: “Moenie staar nie!”

Onskuldig was jy ook nie, want jy het oor inligting beskik wat selfs J. Edgar Hoover jaloers sou maak. Mense was eerlik met jou omdat hulle gedink het dat jy nie eintlik weet wat hul sê of doen nie.  Ek weet jy het baie biegsessie van my aangehoor oor hoe ek misverstaan is, oor hoe ek my middelsus haat omdat sy nou-net weer iets gedoen het wat my baie irreteer. Die enigste probleem was dat jy nie eintlik gelyk het asof jy nie verstaan nie.  Jy het nie gestaar nie, jy was nie ‘n klankbord nie, jy was ‘n gespreksgenoot. Ek was altyd na die tyd, na ek afgelaai het so bang dat jy dalk gaan sleg dink van my en dat jy iewers daarbinne waar jy opgesluit was alles verstaan het.  Ek was bang dat jy dalk daar binne sit en lag vir my en hoekom nie, mense wat hul naaktheid, hul emosies, hul irrasionaliteite ontbloot, is eintlik nogal snaaks.

Jy was ‘n meester in marteltegnieke en dan het jy agter die dekmantel van gestremdheid weggekruip.  Jy het geweet ek haat dit as jy daardie tril-gril klank met jou lippe maak, waar jy jou lippe opmekaar pers en borrels daardeur blaas.  Menige maal het ek jou gevra om te stop. Jy het my aangekyk met daardie onskuldige Bambi-ogies en net weer geblaas.  Daar is niemand op aarde en in die hemel wat my sal kan oortuig dat jy nie geweet het wat jy doen nie, jou wreedaard! Net so het jy geweet ek hou van my spasie as ek slaap, maar jy het my spasie kom roof.  Elke aand as ons moes dubbelbed deel en ek jou aan die verste end insit sodat ek baie spasie het, word ek op die randjie wakker met jou knus agter my rug ingenessel. Berouvol oor my ongemak was jy geensins nie.

Heimlik weet ek, sussie dat jy nie net ‘n liggaam en ‘n dop was nie.  Jy het geweet wat hier om jou aangaan. Dit wat ‘n denkende mens van ander lewende wesens onderskei, is ‘n humorsin en jy het een gehad.  Jy het gelag as iets op die TV snaaks was.  Onthou jy dat die verpleegsters gedwing was om jou een aand in die hospitaal in die gang te laat slaap omdat jy nie ophou lag het nie.  Jy het glo tot een uur die oggend gelag. Iets of iemand was baie snaaks. Sussie wie was dit? Het jy die engele gesien?  Was dit hulle wat jou met kwinkslae besig gehou het toe jy nie meer kon asemhaal nie? Ek neem so aan, want niemand anders het die grap gesnap nie. Jy kon sien, hoor en ervaar wat mense wat heeldag raas en praat nie kan sien nie.

Jy het bekende mense ontmoet en self die gelykenis van die twee brode en vyf vissies beleef. Onthou jy toe ons almal, dit is nou ma, ek, jy en die Govenders en Naidoo’s van Natal op die katedraal in Durban neergesak het om Moeder Theresa te ontmoet (eintlik van ver af te sien), maar ons was daar. Sy het jare later (in my eerste huweliksjaar) gesterf, siestog, self ‘n vrou wat alles geoffer het en min antwoorde gehad het.  Sy het haar geskaar by die arm en honger mense van Kalkuta, maar was nie so gelukkig om soos jy die vermeerdering van kos te beleef nie.  Ek praat nou, soos jy weet van die wonderwerk van Bokomo se Weetbix-baksteen. Daardie stukkie Weetbix kon kiloliters melk opsuig en nooit opgeëet word nie. Ons weet, want oggend na oggend het ons deur daardie baksteen wat ek jou moes voer, geworstel en jy vir my weer teruggespoeg het.

Sussie ek weet jy was nie net ‘n liggaam en ‘n dop nie, want toe jou ure op aarde min geraak het en die lewe swaar, het jy na my gekyk en gevra vir hulp. Jy was moeg gesukkel en jy wou rus.  Onthou ek het jou op my bors laat lê (seker nie die slimste ding vir iemand wat nie kan asemhaal nie) en jy het ontspan.  Ek het so gedink dat dit seker is hoe liefde voel. Later toe my kinders klein was, kon ek hulle nie genoeg so op my bors laat lê nie, want dit was vir my altyd so lekker die vertroue en rus wat hulle by my gekry het.

Jy was ‘n teenwoordigheid en meer as ‘n rits staaltjies wat vertel kan word, was jy deel van my identiteit. Ek het geweet dat jy sou gaan toe jy gegaan het.  Jou engel-vriende het jou seker kom haal, maar daarmee saam het hulle die velle van ons lywe afgeskeur daar waar jy aan ons vasgegom was. Dit was pynlik, dit was aardskuddend, want jy sou nie weer vervang kon word nie. Mense sou nie die verlies kon verstaan nie en ‘n mens sou moeilik weer oor jou kon praat sonder die toevoeging van ander se clichés nie.

******

Hoekom het my boggelrug-spoegbek-sussie bestaan? Nie om my dankbaar te maak nie. Nie om my ma se krag en ons gesin se geloof te beproef nie. Ook nie om ons in die kerkbanke in te dwing nie. Haar bestaan was nie ter wille of te danke aan ons nie. God het haar ‘n lewe gegee. Die lewe was nie ‘n hemelkind-lewe nie – daardie verpeste neerbuigende woord – dit was ‘n volwaardige lewe, soos myne en joune.  Sy het bestaan omdat sy ‘n lewe gehad het om te leef en sy moes dit ten volle leef.  Sy moes stories versamel, inligting inwin, mense liefhê en ander leer vertrou, sy moes grappies maak met vriende en sy en ons moes leer totsiens sê.

Skildery deur Antoinette Veldtman


 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Moderne Slawerny