Om te onthaal is moeilik.
Om te onthaal is moeilik
By ‘n onlangse onthaal is ek en etlike ander gevoed, nie op twee vissies en vyf brode nie, maar met heerlike voorgereggies, ‘n hoofgereg en etlike hemelse happies vir nagereg. Ek het oorkant my hoof en adjunk gesit en die gesprek het onwillekeurig na kos en eetgewoontes verskuif. Dit blyk al ‘n brandende tema te wees sedert Twiggie.
Ek het niksvermoedend en sonder filters aan hierdie
gesprek begin deelneem. My man het my al gewaarsku: “Daar is iets soos
pragmatisme, Karen”. Ek luister mos nie. Die vraag is aan my gestel: Wat eet jy
vir ontbyt? Hierdie vraag is diep en persoonlik en op die oomblik vou ek soos
‘n pokerspeler met ‘n slegte hand. “Niks,” sê ek. “Ek is te gespanne om te
eet.” Onmiddelik sien ek die wenkbrou van die Adjunk lig – natuurlik gefokus op
die woordjies “te gespanne.” Hierdie gesprek kan nou enige rigting inslaan. Ek
kan gevra word hoekom ek gespanne is. Ek kan gevra word oor die voeding van my
kinders, óf ek kan gevra word, soos ek is, wanneer ek dan my eerste maal eet.
Nie een van daardie vrae het 100% goeie antwoorde nie, maar kom ons stel dit
so: Ek leer my kinders onafhanklikheid. Wat myself aanbetref, ek eet as ek by
die huis kom of dit vier uur of sewe uur is. Anders maak ek die skool se restaurant
ryk iewers deur die loop van die dag.
Beteken dit dat ek nie hou van eet nie. Geensins nie. Ek
hou van eet, maar nie op ‘n drafstap nie. Eet is ‘n samekoms. Dit is ‘n heilige
oomblik. Dit is die een oomblik in jou dag wat die genade op sy naaste aan jou
is. Dit is een van die dingetjies wat ek by my man geleer het. Kos en goeie wyn
is vir hom ‘n geskenk en hy sal NOOIT ‘n krummel oor sy lippe laat gaan sonder
om in gebed dankie te sê vir die voorreg nie.
Ek moes al baie van sy oorsese kollegas ontvang, wine and dine, soos hulle sê. Die aand
begin dikwels styf met korrekte en diep gesprekke van mense wat bewus is van
hul verhewe intellektuele status, maar as die voorgereg kom en die smake van granaalsop
en warm, vars brood eers begin dans in hul mond en die skerp grasserige smaak
van ‘n sauvignon blanc die pallet wakker maak, verdwyn die pretensie en uit kom
die mens.
Onthaal is moeilik want jy moet ‘n balans tref. Jy kan
die spontaniteit uit die dag beplan deur net niks aan chaos oor te laat om op
te kikker nie. In so geval voel jou gaste soos die ammeubelment, net daar om
jou prentjie te voltooi. Jy kan ook weer gaan en voel dat vir hierdie onthaal
moet godswater, maar oor godsakker loop. Dan voel jou gaste ook onwelkom en
soos ‘n oorlas. Die goue middeweg is om moeite te doen. Lekker kos wat jy van
hou voor te berei, uit te sien om die mense in jou huis te ontvang en hul te
bederf en dan baie belangrik om te vra vir God se seën oor jou, jou gaste en
jou kos.
Met die gedagte van kos en onthaal in my kop, lees ek die
verhaal van Jesus se eerste wonderwerk volgens die Johannes Evangelie, waar
water in wyn verander word. Ek let ‘n paar goedjies op, soos die feit dat daar
konsekwent na Maria as “Jesus se moeder” of “die moeder” verwys word (ek los
die vrae vir ‘n ander dag). Ek lees ook so bietjie in die wêreld van die teks
in. Ek sien Jesus en sy dissipels na die bruilof gaan op aandrang van sy moeder.
Sy is baie trots op hom. Spog dalk bietjie te veel teenoor die gaste. Sy is
bewus dat haar Seun spesiaal en geseënd is, soos ‘n ma maar oor haar kinders
voel. Sy wil graag met Jesus afwys en wil hê hy moet uithelp as die wyn opraak.
Hy wil nie en raak moeg en ek verstout my, eintlik ‘n bietjie ongeduldig met sy
ma. Hy spreek skerp woorde: “Waarom sê u dit vir my? My tyd het nog nie gekom
nie.” Sy ma slaan nie ag op sy teensinnigheid nie en druk hom daarin en sê vir
die knegte om te doen wat hy sê. Hy verander die water in wyn.
Hierin lê, tipies Johannes, baie simboliek. Die water
word in kanne gegooi wat gebruik word vir reiniging. Water wat lewensbelangrik
is, word verander in wyn, rooi soos lewensbloed. Die goeie wyn wat voorgesit
word aan die einde van die bruilof, is vreemd vir mense, maar getrou aan God
wat as ons moeg en verslane voel ons opnuut voed en verkwik met lewenslus - ‘n
geseënde lewenslus. Dit wat van God kom, is meer gerond en gekultiveerd as
enigiets wat ons al geproe het. Enigiemand wat dit ervaar het, het Sy
heerlikheid ervaar en glo. Hul glo dat God tussen ons leef en dat as die wyn
kanne leegloop en die lewensvreugde ons verlaat, ons beker weer gevul word met
‘n lewe beter as waarvoor ons in eie krag beplan en voor gewerk het.
Dit is hoekom ons as mense moet saamkom en saamsit. Ons
moet lekker eet en gesellig wees. Ons moet praat, en dink en lag. Ons moet ook
dans en sing, en in dit alles God se vernuwende krag ervaar. Tans staan ons aan
die einde van ‘n kwartaal en daar is al baie gesê oor die moegheid wat ons
ervaar en die rus wat ons soek. Ek wil jul egter uitnooi om in hierdie kort
vakansie vernuwe te word deur kos, samesyn en die vernuwende krag van God. In
tien dae kan jy nie uitrus van lewensmoegheid nie, maar as jy jouself oopmaak
en jou vriende, familie, en laat ons nie die troeteldiere vergeet nie, werklik
waardeer en sien, sal die krag van God se genade jou weer verkwik.
“Jesus se vir die kelners:
“Maak die kanne vol water.”
Hulle het dit tot bo toe volgemaak.
Toe sê hy vir hulle: “Skepnou daarvan uit en gaan gee vir die seremoniemeester."
Hulle het dit gedoen. Die seremoniemeester het nie geweet waar dit vandaan kom
nie, maar die kelners wat die water uitgeskep het, het geweet. ..en Hy het sy
heerlikheid openbaar, en sy dissipels het in Hom geglo.” Johannes 2: 7-11
Só pragtig!👌🏽
AntwoordVee uit