Die pienk rok


Die pienk rok.

My ouma het so ‘n cherise pienk huisrok gehad wat sy altyd as sy nie lus was om moeite te doen nie, gedra het. Dit was nie die mooiste rok nie en het geen spesiale stelling gemaak nie, behalwe GEMAK! Die rok het nie vorm aan haar liggaam verleen nie.  Die armholtes was bietjie groter gesny sodat ‘n luggie vrylik kon deurtrek sodat sy maklik kon afkoel as die tempratuurskommeling van die ouderdom intree. Die rok het net bo die knie gesit, sodat daar nie iets was waaroor sy, as sy kierie in hand by die gang afskuifel, kon pootjie nie. In daardie rok het my ouma ontspan oor haar ouderdom en ongemak van haar lyf.

Ek en my ouma het ‘n verhouding gehad wat min of meer die vorm aangeneem het wat baie betekenisvolle verhoudings in haar lewe aangeneem het, naamlik dat ons baie gestry het. Ek het in my jeug werklik daardie pienk rok verpes. Ek het gevoel dat die ou katoenrokkie nie geskik is om enigiewers gedra te word nie. Ek sou nooit durf om dit vir haar te sê, want die slae met die riempies in my prulle jeug het hulle merk gelaat. Ek kan my ouma in haar pienk rok nog sien gesaghebbend in die huis rondwandel. Sy het nie sommer haar rok gedra as daar werkers in die huis kom werk het nie of as sy die buurman gaan aanvat het oor sy honde wat so onophoudelik blaf nie. Vir daardie geleenthede het sy haar kaftan gedra, want sy moes heelwat meer imponerend lyk. Ek moet erken dat niemand met my ouma gesukkel het as sy die kaftan aangehad het nie, maar in die pienk rok was sy net haarself, ongestremd.

Tot my skok het ek besef dat ek ook ‘n “pienk rok” in my kas het wat ek dra wanneer ek van myself wil vergeet.  My “rok” is nou wel ‘n t-hemplap broek en hemp. My een dogter verpes dit, maar sy het geen benul van die vryheid wat dit my gee nie. Die “pienk rok” is anders as die ou uitgedraede klere wat jy as jongmens dra.  As jy jonk is, lyk jy min of meer goed in alles en jy is bewus dat jy die “ou ding” wat jy dra, laat goed lyk. ‘n “Pienk rok” is iets wat jy soek en dra om van jouself te vergeet. Jy wil nie meer ‘n stelling maak en bewys dat jy mooi lyk nie; jy wil ook nie gepla wees of die kledingstuk wat jy dra ander se goedkeuring wegdra nie; jy wil ook nie meer herinner word aan jou bannale vleeslikheid en verganklikheid nie. Jy wil net wees. Dit is met hierdie besef dat ek vandag terugkyk na my ouma en haar daaglikse gewandel in haar rok en dit eintlik ‘n traan van behaaglikheid na my oog bring.

In my geestesoog sien ek my ouma vroegoggend (want sy was al soggens vier-uur wakker) op haar BiggieBest stoel sit en Bybel lees.  Sy het dit elke oggend gedoen, want soos ek ook ouer word, besef ek dat om Bybel te lees nie net daaroor gaan om jou saak met die Here reg te hou nie, maar dit is ‘n manier om te dink en in gesprek te tree oor die baie wat jy al ervaar het. ‘n Mens praat met God oor die kompleksiteit van die lewe, die kontraste en jou tekortkominge, en jy stry met God oor Sy oënskynlike afwesigheid en oor wanneer jy gehaal gaan word. Ek sien nou dat my ouma se sig nie in daardie stoel na buite gerig was en gemoeid was met hoe ander haar in haar “pienk rok” waargeneem het nie. Sy was ingekeer na binne besig met ewigheidsake.

As my ouma later kombuis toe geskuifel het en haar twee eiers en tee gaan maak het, het sy weer wakker geword tot haar fisiese behoeftes van voeding, netheid en samesyn.  Sy het by die wasbak gestaan en met die honde buite die venster gepraat tot sy ander geselskap gekry het.  Sy het haar gietysterpannetjie sy kuur toegedien, sodat die eiers nie vassit nie. As jy betyds opgedaag het, het sy graag vir jou ook ‘n eier gemaak.  Dit was haar absolute trots om vir jou te vertel hoe om ‘n perfekte gebakte-eier voor te berei. Mens het altyd lekker met haar daar aan die ontbyttafel gesels. Die oggendluggie het koel deur haar rok gewaai en daar was nog nie veel om haar lewenstam te maak nie.  Sy het graag gepraat oor haar kinders en die Dale Carnegie kursus wat sy gevolg het as jonger vrou wat haar bewusgemaak het van die belangrikheid om na ander te luister. Sy was mal daaroor as kleinkinders ook kom aansit het en sy het hulle vermaak met hoe sy haar eier eet, eers die wit en dan heellaaste sit jy die geel heel in jou mond, want dit is die lekkerste deel van die eier. Sy het hulle wel ook vertel dat mens dit nie so eet in beskaafde geselskap nie.

Om elf die oggend sou jy dikwels my ouma met ‘n koppie tee in hand sien blaai het deur foto- albums, sommige swart-en-wit foto’s sou haar lank besig hou soos sy die storie agter hulle weer in herinnering probeer roep het. Dit wat sy die graagste wou hê, is dat jy haar moes kom vra wie dit op die foto is, maar daarvoor was daar nie altyd tyd nie. Dikwels het mens haar net alleen gelaat daar ver in haar herinneringsvlug. As jy wel die moeite sou doen om bietjie uit te vra, sou die stories jou verbeelding prikkel en ‘n wêreld heelanders as jou eie oproep.  Ek het met een van daardie gesprekkies uitgevind dat my ouma eintlik ‘n heel hubse vrou was en sy haar veelmeer konserwatiewe skoonfamilie in rep en roer gehad het met haar langbroeke en lipstiffie wat sy gedra het.  Sy was trouens ‘n baie mooi vrou en haar kollegas het haar in ‘n kompetisie ‘n tien-uit-tien vir haar bene gegee. Nou is sy dalk net ‘n liggaam in ‘n baie lelike rok, maar op daardie foto bly sy steeds die omstaanders met haar tien-uit-tien bene betower.

Mens kon dalk nog die gesprekke oor die foto’s vermy, maar as jy vir haar ‘n glasie Lanserac Rosè met middagete aangebied het, moes jy bereid wees om te luister. Dan is mens geneem op herinneringsvlugte van al die oorsese reise waarop sy al was.  Dit het nie saak gemaak of jy die storie al gehoor het nie (of jy dit al so goed ken dat jy dit ook kon vertel het nie). Jy moes weer saam gaan waatlemoen eet in Mexiko, perde bekyk in Spanje en zen-oomblikke in Japan beleef. As jy weer gesien het, was die bottel Lanserac leeg en dit was tyd vir my ouma se sepie. Jack en Vivian het nog nie bymekaar uitgekom nie en hulle sukkel al heelweek om vir mekaar te vertel dat hulle lief is vir mekaar. Die spoed waarmee hulle hierdie verklarings maak is egter onbenullig, want dit laat jou toe om ‘n lekker slapie in te pas so tussen die niks wat op die skerm gebeur nie. As jy jou slapie ook nog kon inpas in jou gemaklike pienk rok des te beter.

Ek dink deesdae met deernis terug aan my ouma in haar pienk rok.  Vir al die frustrasie en irretasie wat daardie rok toe ek jonk was by my opgewek het, maak dit my vandag net bewus van ‘n verandering in perspektief wat uiteindelik by jou moet intree. Jy moet jouself afsterf en gemaklik word, want die vreugde van ouderdom lê nie in die beeld wat jy na buite uitstraal nie, maar in die stories wat deur jou en om jou waar geword het. Maak die knoop wat so druk om jou middel los en dink aan die kinders wat jy die lewe ingebring het. Strek jou vingers maar so twee keer meer uit om die karpale tonnel te verlig en dink aan al die harde werk wat jou twee hande al verrig het. Sit, word gemaklik en stil om daardie gesprek met God te hê, want julle het baie om oor te gesels. Soos jy ouer word raak die gesprekke interessanter, want die Goddelike gespreksgenoot raak ‘n groter sekerheid. Julle kan praat oor al daardie kommunikasies wat jy misverstaan het en die vroegoggend gevegte wat jy soos Jakob met God gevoer het. Ja, en jy kan ontspan, want jy is uiteindelik vry om te wees sonder oordeel of vrees – net jy in jou pienk rok.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Moderne Slawerny

Hoekom het jy bestaan jou boggelrug-spoegbek-sussie van my?