Kanker herbesoek.
Onlangs grawe ek deur 'n hoop foto's ,soos ek weer eens skrop en uit sorteer aan my lewe. Daar ontdek ek toe twee foto's van my, die een is geneem in 2014 ( die jaar waarin ek met kanker gediagnoseer is) en die ander in 2015 (so een maand na my kanker uitgesny is en ek op die punt was om met my behandeling te begin). Hoekom noem ek nou dit? Nee, dit is nie 'n selfbejammerende gesanik wat gaan volg nie.
Wat ek ontdek het, nou dat ek met vars oë kyk na die foto's is dat ek baie gesonder lyk in die 2015 as 2014. Vir ander mense mag dit logies klink, maar baie mense wat met borskanker gediagnoseer word, sal weet dat die diagnose dikwels 'n skok is. Dit is nie net 'n skok omdat jy voel asof aan jou 'n doodstraf uitgedeel is nie, maar dit is 'n skok omdat jy eintlik nie gedink het dat jy siek is nie. Behalwe vir 'n knoppie of 'n onrustige stemmetjie in jou kop was daar nie erge simptome wat jou laat dink dat jy 'n potensieel lewensbedreigende siekte het nie. Trouens, ek het heeltyd gedink dat die dokters een of ander geldmaak skema beet het. Ek kon nie glo ek moes chemoterapie kry nie en dat die hele ding so ernstig hanteer moes word nie.
Nou amper vyf jaar later en met die kyk na hierdie foto's besef ek dat die siekte daar was en dat dit my in 2014 (en vroeër) amper lewensmoeg gelaat het, maar dat ek duidelik na die verwydering van die kankeragtige gewas en limfkliere duidelik weer lewe gekry het. Vyf jaar later is ek skoon en sonder 'n sweempie van kanker. Die newe-effekte van die behandeling is weg en die emosionele wipplank van oorlewerskuld het my ook verlaat. Ek besef dat die paadjie wat ek gestap het, moes gestap word en ek is nie net 'n rat voor die oë gedraai nie.
Aangesien kanker al meer deel raak van ons lewens en al meer mense ook gekonfronteer word met daardie nuus, soos ek, en dit nie kan glo nie, wil ek versekering gee dat die pad wat jy gaan stap nie lekker is nie, maar nodig is. Ja, nie almal is so gelukkig soos ek om gesond te wees nie en vir baie koop die behandeling net bietjie tyd, maar moet nie jou tyd versuur deur jou diagnose en behandeling te bevraagteken nie. (Daar is so baie mense wat alternatiewe behandelings voorstel en mens net onrustig laat en jou behandeling laat betwyfel.)
Ek plaas weer een van die stukkies wat ek destyds aan die einde van my behandeling geskryf het, want ek dink dit reflekteer die hoop en insig wat ek uit my betrokke reis gekry het.
Daarom sê EK vir
julle: Moet julle nie bekommer oor julle lewe, oor wat julle moet eet of drink
nie, of oor julle liggaam, oor wat julle moet aantrek nie. Is die lewe nie belangriker as kos en die
liggaam as klere nie? Kyk na die wilde voëls: hulle saai nie en hulle oes nie
en hulle maak nie in skure bymekaar nie; julle hemelse Vader sorg vir hulle.
Matteus 6: 25-26
1.
Lewe by die voëlbak
Tik, tik-tik, tik...daar hou dit op. Na ‘n rukkie begin
dit weer met ‘n tik, tik-tik, tik. Die ellendige voëltjie wat so te kere gaan
teen die ruit. Ek ken nie jou naam nie, maar jy is lastig. Ek is moeg, my moeg
is moeg...vir moeg wees en my gesig is opgepof en vol “karbonkels.” Tik,
tik-tik, tik. Nee, magtig! Moet ek nou hier opstaan en die dingetjie verwilder.
Ek wil nie ... opstaan nie. Ek gaan tog nader en jaag hom weg. Gaan lê weer. Nou is ek wakker. Genade. Ek het
heelaand nie geslaap nie, rondgerol en gekriewel. Tik, tik-tik, tik.
Ag, laat ek net opstaan en gaan kyk of ek hom nie op een
of ander manier kan wegjaag nie. Ek gaan uit en buite in die swak
laat-wintersonnetjie sien ek ‘n refelksie van iemand in die venster. Ek skrik.
Wie is dit? ...Ek. Ja-nee wenkbroue en wimpers maak ‘n verskil. Die kaalkop is nog niks. Dit kan heel avandgarde lyk, maar nou, nou
lyk ek net sleg. Moeg en sleg en lelik. Waar is daardie voëltjie nou? O! By die
voëlbak. Dit is leeg. Sal dit seker moet volmaak. Ek is nie lus nie, maar dit
mag dalk net die voëltjie stilmaak.
Ek gaan lê. ‘n Paar selfbejammerende gedagtes flits deur
my kop. Ek voel hoe sink ek dieper, deur die matras, amper verby die punt van
terugkeer en dan skielik die oorweldigende gevoel: STAAN OP! Moet nie verder
gaan nie, verby daardie punt gaan jy nie weer terugkom nie. In twee geskeur en
bewerig staan ek op, maak vir my ‘n koppie tee en gaan sit op die stoep. In die
hoek van my oog sien ek die voëlbak en met
wat nou nie net een, maar baie klein voëltjies om dit het.
Ek drink my tee en kyk, net omdat daar niks anders is om
te doen nie en ek nie die krag vir iets anders het nie. Die voëltjies, klein,
bruin en vaal (dalk mossies) pik gelukkig aan die saad in die bak, maar is
senuweeagtig, op die uitkyk vir ander wat ook nog daar gaan kom sit. Die ou valetjies was egter nie inhalige tipes
nie, want hulle het nogal plek gemaak vir hulle maters om ook te kan saam eet.
Dit was nie lank nie toe kom sit een van daardie grysgevrete, die rotte van die
lugweë, dik duif, homself ook op die rand van die voëlbak. Hy het ook ‘n mater,
maar dié sit nog daarbo op die telefoondraad.
Skielik pik die valetjies stadiger, baie meer tentatief,
maar hulle probeer nog onverstoord voort eet. Hulle is egter duidelik
geïntimideerd deur die dikke se baldadige pik-en-sluk aksies. Toe gebeur dit,
die groot grys-een van die telefoondraad sak neer en die dikke spring in die middel
van die voëlbak. Hoe nou vir die valetjies?
Verwilderd vlieg hulle na omringende takke en aanskou die feesvieringe
wat in die bak aangaan.
Nou kom daar skielik duiwe van oral. Hokaai ouens die bak
is net só groot. Die dikke in die middel
van die bak se posisie is in gedrang deur die groot grys-een wat links van hom
pik. Met ‘n soepel en slinkse aksie verdryf die grys-een vir dikke en koer hy
koning in die middel van die bak. Dikke vlieg nou na die telefoondraad en sit
stil, verstoot en toekyk. Die ander pik links en regs soos die grys-een hulle
toelaat. Daar is ook ‘n ou maer vaalgrys duifie wat sukkel om met dieselfde
bombasme as die ander te pik. Jy kan duidelik sien sy bevraagteken haarself as
duif en die etos van die hele duifkolonie. Sy is seker volgens die ander net
gewoon maer, uitgeteer en vreemd.
Die duiwe is egter morsige eters, geen ontsag vir die
grote van die bak of die hoeveelheid kos in die bak nie. Hulle gee net om vir hulself. Baie van die kos val op die grond. Dit is nou
wat die ou valetjies weer aan die beurt kom. Aangesien duiwe nie van die vloer
af eet nie, sak hulle af en daar op ‘n ongesiene, amper onbelangrike realm
begin hulle fees – kos om van te kies en te keur.
My tee is amper klaar en ek sit nou net op ‘n veilige
afstand en bekyk die ding. Ek wonder of die duif-party ooit gaan end kry of tot
‘n val gaan kom. Die klein valetjies was
vir my oulik, maar die duiwe laat my te veel aan mense dink. Ek weet nie of ek
môre weer kos in daardie bak gaan sit nie – nie net vir die dik duiwe om aan te
vreet nie. Maar uit nêrens sak daar ‘n derde party in die voëlbak-mikrokosmos
neer. Sy is heldergeel koeketterig, met ‘n vrolike vink-wip in haar. Sy gaan
sit op die rand van die bak. Die duiwe stop. ‘n Gevoel van minderwaardigheid
spoel oor hulle. Hulle is verward en kan skaars dink in die aangesig van soveel
kleur en onbeskaamde houding. Sy maak ‘n
halwe aksie in hulle rigting en die duiwe vlieg flappend en raserig weg dat dit
net grys vere is wat waai.
‘n Rustigheid het nou oor die voëlbak neergesak. Dit is
net sy, die vinkie. Sy pik en sing en geniet die fonds van voeding wat sy nou
gevind het. Tevrede met haar skoonheid
en met alles wat haar toekom omdat sy mooi is, bevraagteken sy nie een oomblik
verder haar bestaan nie. Na ‘n ruk vlieg sy weg. Dit is stil om die voëlbak.
Die kos is op en die lewe is weg.
‘n Aardige ding gebeur toe met daardie refleksie in die
venster – dit glimlag. ‘n Mens lyk nogal anders as jy glimlag, veral as jy nie
wenkbroue het nie. Sjoe! Uit my maag uit lag ek vir daardie refleksie. Ek staan
op en vat my koppie tee in die kombuis in. Ek begin dink, dink aan hoe daardie
kapperjolle by die voëlbak ‘n afetsing van die lewe self is. Hoe almal hulle
eie vlak van bestaan het, hoe die dinamika tussen die wêreld se kreature sy eie
skoonheid het, soms ‘n geweldadige skoonheid, maar dat elke voëltjie vanoggend
uiteindelik gevoed is, is nie te betwyfel nie – ook ek.
‘n Uur gelede het ek in selfbejammering op die bed gelê,
te moeg om ‘n gedagte te formuleer wat te praat van op te staan. Ek is egter
gepla deur een van die mees onbeduidende kreatuurtjies in ons lewens, hulle
dien geen funksie in die menslike bestaan nie, hulle vlieg net in die lug rond
en tjirp. Nou het ek al deur drie vertrekke beweeg en begin dink oor myself en
die lewe – om te LEWE. Die besef kom tot my dat niks wat vanoggend gebeur het,
lukraak is nie en dat daardie voëltjie nie net ‘n voëltjie, ‘n valetjie, was
nie. Daardie voëltjie was God wat teen my venster kom tik het en my teruggeroep
het van die punt van opgee en moedverloor.
Later die dag vertel ek ander van my ervaring met die
lastige voëltjie. “O-ja!” sê een, “hulle sien glo hulle eie refleksie in die
venster en dan tik hulle daarop.” “Nee,” dink ek, “hulle sien dit anderkant die
venster, moedeloos en uitgeput en dan reik hulle uit.” Ek neem egter nie die
ander kwalik dat hulle nie my gewaarwording verstaan nie, want dit was ‘n
boodskap wat vir my bedoel was en hulle was nie daardie oggend saam met my om
die voëlbak nie.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking