Van Vasdans en Val
As daar iets is wat
ek nie eintlik kan doen nie is dit dans of eintlik vasdans, anders genoem
sokkie. In my jeug kon ek fantastiese bewegings op die planke uitruk van my
bewegings was aanskoulik en ander net bloot vermaaklik. Ek moet erken dat ek
mal was oor hop-en-bob, maar om te beweeg na waar ‘n ander my stuur, was nog
nooit my sterkpunt nie. Vasdans vereis vertroue en ‘n oorgawe van beheer en
daarmee is ek nie goed nie. In my lewe het ek ‘n bittersoet verhouding met dans
en probeer al van ‘n baie jong onderdom leer hoe om my liggaam in harmonie met
die musiek te beweeg, maar sukses is nie altyd myne nie.
Ek dink ek was in
graad een of klas een in daardie dae, toe ek begin het met balletlesse. My ma
het gedink dat dit ‘n goeie manier vir my sal wees om myself uit te druk. Ek
was ook op daardie stadium so ‘n maer tinktinkie dat om te tol en te draai die
natuurlike keuse vir my was. Ek het dit baie geniet en goed gevaar in my
aanvanklike eksamens. My dansjuffrou het ook vir my ma gesê dat ek natuurlike
talent in ballet het. Dit het my baie goed laat voel dat ek darem in iets
natuurlike talent het. Teleurstelling was myne toe ek agterkom dat al my dansjuffrou
se leerders natuurlike talent
het. Trouens jy is selfs ‘n bietjie meer
talentvol as ander as jou ma bereid was om kostuums te maak vir dansproduksies.
My ontnugtering in my
oënskynlike talent het gegroei toe ek nie vir die skoolproduksie van Slapende
Skoonheid gekies is nie. Hulle het die tientontessie Minette en haar ewe groot
sussie Tanya gekies om die feëtjies te vertolk.
Ek kon dit nie verstaan nie, want hulle was nie feëtjies nie. Hulle het met elke sprong met ‘n gedonder af
grond toe gekom. My hart was seer omdat ek so mis gekyk is. My ballet loopbaan
is beëindig toe ek my Vlak 4 eksamen gedruip het (Minette en haar sus het darem
ook gedruip). Minette se ma het vrae gevra. Ons is almal gevolglik later
deurgesit, want die stokhoringoue tannie wat hulle gekry het om klavier te
speel, het ‘n mini-beroerte in die middel van die eksamen gehad en volgens die
dansjuffrou is ons daardeur benadeel. Dit was die laaste strooi vir my en ek
het besluit ek eerder sal fokus op hokkiespeel en atletiek.
Op hoërskool het my bittersoet
verhouding met dans voortgeduur. Ek het altyd met soveel hoop na die
skoolsokkies gegaan. Ek weet nie presies waarvoor ek gehoop het nie, maar
miskien net om tog vir ‘n slaggie in te pas en net so “with it” soos die ander
te voel. Dìt was nou ‘n belaglike droom.
Ek het nooit juis gedans by hierdie geleenthede nie en beslis nie vasgedans nie,
want daarvoor moes jy darem ‘n kêrel of sogenaamde ou hê. Ek was die spreekwoordelike muurblom. As ek wel bemagtig was met ‘n vroeë
feministiese gedagte om my nie te laat beperk deur samelewingsvoorskrifte nie,
het ek die dansvloer betree met die ander muurblomme. Ons het onafhanklik in ‘n
sirkel rondgespring of eintlik net ons liggaamsgewig van een voet na die ander
verskuif op die maat van die musiek. Die
idee was om die ander te wys dat ons kan pret hê so op ons eie. Ons kring van
verspottes is elke nou en dan verbreek deur ‘n paartjie wat nou al lank uitgaan
en weer eens hulle draai om die dansvloer maak. Om die waarheid te sê ek het stoksielalleen
by daardie sokkies gevoel en daar was altyd iewers gedurende die aand ‘n geleentheid wat ek ‘n paar verdwaalde
trane in die donkernag onder die maanlig gaan stort het. Dit was net die meganiese dansaksies van ‘n supergeaktiveerde
Krag Kruger wat weer ‘n glimlag na my
gesig kon terugbring.
Ek het my les geleer
oor sokkies en op die universiteit het ek hulle soos die pes vermy. Ek sou myself hoogstens op ‘n Vrydagaand
daarmee vermaak. Dit is nou as ek vir my
slapchips en coke in die Neelsie gaan koop het. Ek het dan bo in die Neelsie gestaan
en afgekyk in die Gat in waar die mense gedans het. Ek het my sosiale
uitsluiting van die dans gebruik om ‘n fyn studie van menslike interaksie te
maak – ek was immers ‘n student van die lewe. Dit het nie lankgevat om die die
dansvloerboelies te identifiseer nie. Hierdie
boelies is gewoontlik mans wat selfvertroue laat lek uit elke beweging. Hulle
dans ongeveer met elke stereotipiese mooi meisie. Die sleutel tot hulle sukses
is baie tol- en gooibewegings terwyl hulle dans. Gewoonlik moet mede-dansers ook padgee as
hulle verby kom, want hulle vat daardie meisie met soveel spoed en asemrowende
machogeid om die vloer dat enigiemand in hulle pad moontlik gehospitaliseer sal
moet word. Die dansgreep is ook onderwerp van studie. Elke man het het ‘n ander greep. Daar is die baie
onsuksesvolle slapgreep waar die dansmaats mekaar los vashou, baie wind kan
tussen hulle beweeg en die een weet nie noodwendig wat die ander een volgende
gaan doen nie. Daar is ook die greep
waar die man die vrou se arm as ‘n tipe pomp gebruik wat hy half op-en-af
beweeg soos hulle dans. Die dansvloerboelies het weer ‘n stywe greep wat uitspel
dat jy “poppie” vir hierdie dans myne is en ek sal jou plekke neem waarheen jy
nog nie gegaan het nie. Soos ek sê, ek het nou sokkies eerder gebruik as ‘n
studie van menslike gedrag waarin ek van ver af kritiek teen hierdie spel van
die lewe uitspreek.
Ek het sover vervreem
van die natuurlike talent wat ek as graad enetjie gewys het dat die volgende
keer wat ek die dansvloer betree het was saam met my, nou, man by ‘n menseregtekonferensie
in Strassburg. Hy was verskeur tussen na die verskillende konferensie danse gaan
of tuisbly en die laaste stukkie van die krieket tussen Suid-Afrika en Engeland
oor BBC luister. Hy moes my nog beïndruk, want ek was nog nie sy vaste en
versekerde ‘duifie’ nie. Wel van al die
moontlike dansplekke is ons na ‘n reggae dans: “Ja, Maaann!” Gelukkig was
vasdans nie ‘n opsie nie, maar ek het baie daardie aand geleer. Waar mens ‘n
kakkefonie in musiek kry, was ons die kakkefonie van die dansvloer. Hy het ‘n
besemstok ingesluk en ek was net wriemelende ritme langs hom. Ons het
tuisgekom, beide van ons was ewe sleg in hierdie daad van ritmiese interaksie. Ons is daar weg en het ‘n pizza gaan eet op
die kerkplein en ‘n bottel rooiwyn onder die maanlig uitgedrink. Hoewel ons nie ritme op die dansvloer gehad
het nie, was daar genoeg van ‘n vonk in ons en ritme in ons samesyn en gedagtes
dat ons steeds vandag saam is, mits ons van ‘n dansvloer afbly.
Daar was dus nie gedans
by ons troue nie, maar net geëet en lekker geëet. Ons was wel jare later by my niggie se troue versoek
om in ‘n oomblik van valse selfvertroue die dansvloer te betree. Ons het ‘n soomlose
twee rondtes om die dansvloer geneem.
Ons twee dogters het met groot bewondering toegekyk. Ek kon sien dat hulle gedink het dat daar tog
hoop vir hulle is, dat hulle ook eendag die borde op die tafel kan los en hulle
voete blase dans. Op hierde stadium was ons al so twaalf of dertien jaar
getroud en het mekaar goed geken. Ek het
geweet hy is ‘n besemstok en ek is ritme. Hy het weer geweet dat hy toegeeflik
is en ek oornemerig en beheersugtig. Maar om een of ander rede, of dit nou die
opwellinge van die musiek was of nie, is ons versoek om vir ‘n oomblik ons
kennis van mekaar en ons onderskeie vermoëns te vergeet. Hy het besluit om my in
‘n spontane aksie te tilt. Ek het die spontaniteit baie waardeer, maar werklik,
ek was glad nie meer die graad een tinktinkie nie en niemand tilt my sonder
vooraf goedkeuring nie. Dit was die einde van ons dans. Ons oomblik van
harmonie het in duie gestort soos ‘n kaarthuis.
Ek het my balans verloor en hy is amper op my neergetrek. Ons oudste was
nie te veel daardeur onthits nie, want sy het miskien heimlik gedink dit sou
kom. Ons jongste het egter in trane
uitgebars. Ek weet nie of sy besorg was oor ons en of die totale verleentheid
van die geleentheid nie net vir haar te veel was nie. Ek en my man kon nie anders om te lag nie. Gelukkig
is daar baie troos in ‘n sny kaaskoek.
Hierdie oomblik van
waansin het my eintlik bewus gemaak dat soms kan mens buite jou gemaksone
beweeg en voeling verloor met jouself en jou maat. Jy kan baie pret hê, maar dit
is gewoonlik in oomblikke van oormoed wat jou wiele kan afkom. Hierdie gedagte
van my is versterk deur ‘n soortgelyke dertig sekondes van harmonie wat my suster
en haar, nou, ex-man in hul agterplaas gehad. Om alle dubbelsinnigheid uit te
klaar, die musiek het gespeel en hulle het vir ons vermaak deur ‘n vertoondans
op die planke gesit. Die eerste dertig sekondes was suiwer “magic”. Dit was
soos een liggaam wat in perfekte vertroue oor die gras geswiep het. Al het haar
man die vreemdste draaie geneem, het sy bygehou, maar toe skielik en om geen
ooglopende rede het daar disharmonie ingetree, sy het begin twyfel in die
rigting waarin hy haar neem, sy het vir haarself begin dink en hom nie meer
vertrou nie. Wel, dit is toe jy voete en bene in verskillende rigtings sien
gaan en die dans nie meer ‘n dans was nie, maar eerder ‘n trek en stoot in disakoord.
Om vas te dans is ‘n
kuns en soos ek gesê het daar is baie politiek in die manier wat gedans word.
Soms is die greep te los, ander keer word jy vorentoe gepomp deur ‘n op-en-af
aksie, ander kere is die ander se greep so styf dat die dansmaat skaars kan
dink of haar eie grasie kan ten toonstel. Ek weet nie wat die beste dansaksie
is nie, want ek kies om los te dans soos ‘n planeet om die son, onafhanklik
maar gebonde. Tog hoe jy ook al deur die lewe dans, is daar ‘n twee elemente
wat nodig is. Jy moet bereid wees om
beheer oor te gee en allerbelangrikste om te vertrou. As ons vaal of as ons val
is dit gewoontlik met daardie twee elemente wat ons verkeerd gegaan het. Soos
Petrus wat op die water probeer loop het, het hy gesink toe hy begin dink het
hoe hierdie fenomeen enigsins moontlik is.
Ons dans ook elke
dag, soms dans ons met ons eggenoot, soms dans ons met ons kollegas en meeste van
die tyd dans ons met onsself. As ons nie dink nie en nie probeer uitpluis hoe
ons hiergekom het nie, verloop alles gewoontlik klopdisselboom. Almal van ons
tref egter daardie klip in die pad wat jou ritme versteur. Die klip kan oormoed,
‘n siekte, ‘n ongeluk of soveel klein onbenullighede wees wat veroorsaak dat ons
dans ritme verloor en dikwels tot stilstand gebring word in lagwekkende
disharmonie. Dit is dan wat ons onsself vra hoe ons hier uitgekom het en wat
ons gedryf het om so dom te wees. Ons dink te veel en ons dink te hard. Ons
kies om veilig en verwyderd van die dans dit te bestudeer en sinies fout te
vind met ander se tegniek. Ons is bang om op te staan en ‘n ander se hand te
vat en weer te begin dans, want die verleentheid van val is een te veel. Ek
weet, want ek bevind myself dikwels daar. Tog, al wat tussen jou en die voortsetting
van jou lewensdans staan, is die besluit om deel te neem. As jy besluit het,
maak jou oë toe en vertrou, want as jy dit weer oop maak sal jy laggend tol en
draai tot die musiek stilraak. Dán kan jy lekker uitgeput die dansvloer verlaat,
by die gedekte tafel gaan aansit en sê: “Dit was goed!”
Ek is nou meegevoer deur jou dansende woorde Karen. Kan met so baie identifiseer, ek is ook nie baie " leibaar" nie..nie op die dansvloer of baie ander vloete nie! Ek is ook 'n free spirit. Geniet jou sketse baie!
AntwoordVee uit