Wat bly, is geloof, hoop en liefde!
Wat bly, is geloof, hoop en liefde!
Die ou mense praat altyd van hulle binneste kamer waar
hul gaan om te dink oor sake en te verkeer met hul Skepper. Wel, my binneste
kamer is my motor. My motor lyk soos my lewe.
Dit was eens blink, skoon en vol potensiaal. Nou is daar vlekke op die
agterste sitplekke van vetkryte, waarmee jongste geteken het, en koeldrank wat
gemors het; onder die sitplekke is ‘n versameling van kouse en skoene en ander
dinge wat jy in ‘n noodgeval mag nodig hê. Die bakwerk van my motor is ook al
gekrap en geduik – die voorkant deur my man en die agterkant deur my dogter –
poëties sou ek sê. Ongeag die stampe en die “rommel”, as ek met my voet op die
petrol trap, skiet my motor vorentoe en flits die beelde van berge, bome en
wingerde by my verby, soos padaanwysers na my binneste kamer.
‘n Mens sou sê dat in hierdie grendeltyd-periode ons so
baie isolasie en meer as genoeg stiltetyd gehad het om te dink en te
kommunikeer met jou God, dat ‘n motor nie nodig is om jou na jou binneste kamer
te lei nie. Ongelukkig is dit nie vir my die geval nie, dalk ook nie vir jou
nie. Nou sê ek nie, dat daar geen kommunikasie plaasgevind het nie, maar eerder
dat wat gesê is, nie ontsyfer kon word nie. Jy sien, my God is lewende God – ‘n
God wat met mens kommunikeer en jou inspireer in die lewe en in jou doen en
late. My God is ‘n God van hoop, wat die gewig van my hart en verstand oplig
dat ek ander moontlikhede en ander toekomste kan sien en daaroor kan glimlag. My God is ‘n God van geloof, ‘n God wat deur
die hoop wat gegee is geloof skep in die oorwinning van die goeie, geloof skep
dat jy nie alleen is nie en geloof skep dat in hierdie oerwoud van onsekerheid
daar ‘n pad uit is. My God is ‘n God van liefde, wat omgee en uitreik, wat voed
en versorg sonder voorwaarde en kategorie. Dit is die gedagtes wat na my
binnekamer stroom, soos ek deur ruimtes wat my God geskep het, ry.
Hoekom kon ek nie, toegesluit in my huis, hierdie stem hoor
en jubellasie ervaar nie? Daar was dan soveel tyd om te dink. Hierdie antwoord
het ook na my gekom, so al ryende. Die afgelope sewe weke was gehul in vrees,
vrees vir die kleinste en onsigbaarste vyand wat die mens al geken het. Hierdie
vyand is gepas genoem Covid 19. Ons is almal oor die laaste weke soos krygsgevangenes
gebrandmerk met Covid 19-stempel. Frases soos “#StaySafe” en “Let’s flatten the
curve” en “Stay safe, stay home”, was die doringdraad om ons konsentrasiekampe.
Daarbinne, “veilig” in ons huise het ons, onsself gevoed en besig gehou en as
uit beweeg het, was dit met ‘n suspisie teenoor almal om ons. Dit is wat van
ons gemaak is. Al meer het vrees en woede begin oorneem. Elke aand hoor mense
groeiende getalle en nog meer sterftes. Die retoriek konstant wat gebruik word,
laat ons voel dat ons verswelg word deur hierdie Covid 19: “Covid 19 cases reaches
20 000”, “ Covid 19 deaths are expected to sore”. Vooruitskattings en inperkingsregulasies
trek ons verder in hierdie maalkolk van wanhoop en vrees af. Dit is hoekom ons
nie ‘n lewe-bevestigende stem kan hoor nie, want daar in ons binnekamer voor
die TV of rekenaar het ons reeds ons siele uitverkoop aan vrees en wanhoop.
Gister, het ek in my motor geklim en permit in hand my
pad na my plek van werk gemaak. Ek het die proses van my gewone lewe op ‘n
ongewone manier betree gevrees. Ek het egter daar aangekom en gesien dat,
hoewel anders is dit steeds dieselfde. Ek het gesien dat my gedoekte kollegas
wat ook by die werk was, glimlag nou nie meer hul mondhoeke nie, maar wel met
hul ooghoeke. Ek het gesien dat by almal om my daar ‘n behoefte is om al
hierdie potensiaal binne hulle te deel en om weer iets vir ander te beteken.
Dit is toe dat ek hoop sien.
Op my pad huistoe verby die verbruinende wingerde, kom
dit na my: Al praat ons die tale van medici en politici en het ons die beste
planne om die komende bedreigings af te weer, maar daar is geen liefde vir
mekaar en ons omgewing nie, het ons statistieke en planne niks meer as
klinkkende metaal geword nie. Ons lewe draai om ons eie beveiliging en gehul in
angs vir besmetting. Ons planne ontbreek
oortuiging en word eerder gesien as metodes van onderdrukking.
Al staan ons Minister van Gesondheid daar en bombaardeer
ons met vooruitskattings van groeiende verspreiding en sterftes, maar daar is
geen liefde by ons en by hulle vir hierdie aarde en sy mense wat dit bewandel
nie, dan het ons in werklikheid niks nie. Ons het ‘n gemeenskap wat nie vir
mekaar sorg nie, wat net hulself vasstaar teen statistieke, maar nie die noodkreet
oor ander sake hoor nie. Ons word verlam deur ‘n donker toekoms en ons word
gedwing om te kyk na die negatiewe in die samelewing. Die fokus val nie op
hoeveel mense herstel het nie, of op hoe vinnig hierdie herstel was nie. Ons
kies om te luister na ander se donker professieë, eerder as om ons hoop te
plaas in God se blywende teenwoordigheid.
Al deel ons aan ander uit, soos wel gebeur, maar agter in
ons kop bly steeds die gedagte dat ons groep en ons weldade word nie genoegsaam
erken nie, beteken ins weldoenery niks nie. Liefde en omgee het nie grense of
bybedoelings nie. ‘n Mens help nie ander met die doel dat die guns teruggedoen
sal word nie. Die onerkende realiteit is dat omgee en om te gee, skep die
sensasie van hoop en die gevoel van liefde. Dit is hande wat mekaar vat en vir
sekondes lewe deel. Dit is in die deel van lewe en hoop wat wanhoop omgekeer word
en God se teenwoordigheid (wat altyd konstant was en altyd teenwoordig was)
verblindend word. God lewe nie in vrees nie, God is in die lewe, God is in ons
doen en late en in ons verantwoordelike omgang met mekaar. God is konstant en
teenwoordig al is ons tydelik verblind en verlam deur vrees. Ons moet net ons
hand uitsteek en ons pad voel-voel vind tot ons in ons blindheid ‘n ander se hand
wat daar vir ons geplaas is, vind.
By die vier-rigting stop draai ek van die pad Malmesbury
toe af en ry na Wellington. My gemoed is ligter, maar die boodskap is nog nie
klaar oorgedra nie. Hier, soos ek ry onder die helder son, soms met ‘n duisend
vrae en ‘n kop wat sukkel om hierdie skielike en drastiese verandering in my
bestaan te verstaan, hoor ek dat ons nou in ‘n dowwe spieël kyk. Ek besef dat
die pad wat ek al lank op ry eintlik raaiselagtig is en nie iets is waaroor ek
beheer het nie. Ek glo, dat ek eendag hierdie tyd sal sien vir wat dit werklik
was en aanvaar dat ek nou-net gedeeltelik kan ken. Ek weet dat God ten volle ken
en dat die toekoms nie in vrees en wanhoop gehul is nie.
My huis lê voor my, ek ry in die oprit in, sluit die deur
oop en loop in die binnekamer in en is gevul met die wete dat vir nou bly
geloof, hoop en liefde. Die grootste een van hierdie drie, is die liefde!
Ongelooflik geskryf Karen. Jy toor met woorde en en kan jou in my gedagtes dit hoor sê en sien hoe jy in jou kar verby die wingerde huis toe ry.
AntwoordVee uit