Van slange, hutstekens en lewens wat saak maak.
Van slange, hutstekens en lewens wat
saak maak.
Sondagoggend en ek maak my oë
oop. Die kans van kerk toe gaan met ‘n
kwota van 50 is skraal, want ek het al van vroeg af geleer om die laaste een te
wees om by die kerkbanke in te sluip. My liewe en getroue eggenoot het my
gebruiklike koppie koffie gebring, waarna hy weer gaan werk het. Ek sit in die donker en teug aan my koffie, terwyl gedagtes my kant toe kom: Aan die eenkant op in persoonlike vlak gedagtes
oor die Slang, oor emansipasie en grootword. Aan die anderkant oor veldtogte
gedryf deur hutstekens (#) en twitter van lewens wat saakmaak of nie.
Ek dink dat een van die beste lesse
wat ek op Universiteit geleer het, is om nie te probeer om die gebeure in die
Bybel histories korrek te bewys nie, maar die dikwelse mitiese aard en
simboliese betekenis daarvan te gebruik om die boodskap relevant te maak. Die
stoom van die koffie kielie my neus, soos ek dink aan die gesprek wat ek en my
ouer dogter gister gehad het en ek dink aan die Slang, die versoeking en die
uiteindelike agterlaat van jou ouerhuis. Dit tref my toe weer hoe relevant
daardie tweede skeppingsverhaal vir ons is, maar ons moet dit laat lê, saam met
ons dra en dit laat broei sodat daar met ons gepraat kan word.
Vanoggend praat die verhaal met my
oor emansipasie (dit het al baie oor ouerskap gepraat, maar vanoggend is dit emansipasie).
Emansipasie op alle vlakke: intellektueel, sosiaal, seksueel en ekonomies. Nog
nooit is ‘n mens gespaar van keuses maak nie.
Dit is die kruis wat ons moet dra. Versoeking is ook iets wat daar vir
ons geplaas word - die Slang is God se skepping doelbewus daar geplaas om jou
te laat vrae vra. Jongmense moet dit nog besef dat waar hulle geplaas is, word
hulle beskerm deur hulle ouers wat ‘n unieke Eden vir hulle wil skep. Solank
hulle daar volgens die reëls woon, is hulle veilig, maar die behoefte om ‘n wêreld
van jou eie te skep tree by almal in. Ons wil almal van daardie kennis van goed
en sleg eet en word maklik oortuig as die een-oog slang wink, seil en his. Dit
is egter moeilik, want jou besluit gaan alles verander. Jy gaan kaal staan en agterkom
wie jy is. Jy gaan gekonfronteer word met wie ander werklik is. Jy gaan agterkom
dat jy nie kan bly nie, mens kan nie een voet in Eden hê en die ander in die wêreld
nie. As jy die besluit neem om as mens te “lewe” moet jy gaan.
Die ander belangrike element in
hierdie storie wat ek vanoggend mee gekonfronteer word is blaam. Almal blameer
mekaar: die vrou vir die Slang en die man vir die vrou, maar eintlik ook vir God. Inherent wil mens nie
verantwoordelikheid neem vir ‘n besluit wat jy geneem het nie. Dit is altyd ‘n ander se skuld, ‘n konteks of
die verloop van omstandighede wat jou gedryf het om daardie besluit te
neem. Eintlik is jy onskuldig. Dit is
egter ook hoekom jy bang is, bang is om voor God te verskyn, want kennis van
goed en kwaad beteken ook om verantwoordelikheid te neem, soos God
verantwoordelikheid neem vir die besluit om die wêreld te skep. Ons as mensdom
is nog nie daar nie. Jongmense is beslis nog nie daar nie, maar in hulle lewe
buite Eden gaan hulle moet swaar dra aan die uitdagings en die daaglikse
besluite wat saam met emansipasie kom. Hulle gaan moet werk en wroeg, maar
hulle gaan skep en lag en sorg, want dit waarvoor hulle eens geskep is, het nie
sommer verdwyn nie. Op dieselfde wyse het die Slang nie verdwyn nie en die
uitdaging om verantwoordelikheid te neem ook nie.
Hierdie skeppingsverhaal bly my
altyd by en ek kom weer en weer terug daarna. Die son het in tussen opgekom en
ek het die Bybel oopgemaak en Genesis 2-3 weer gelees. Soos ek gelees het, het gelees van hierdie wêreld
wat aan ons gegee is - perfek en wonderskoon. Ek het gelees van die versoeking
wat God self daar geplaas het, ek het gelees van die listige slang wat God self
geskep het en wat getrou aan sy aard Eva benader het om vrae te vra. Ek het nie
gelees van etikette en stereotipes nie.
Ek het nie gelees dat Adam ‘n seksis was en Eva verleidster was nie. Ek
het nie gelees van duiwels nie. Ek het
nie gelees van rassisme nie. Ek het wel gelees van ‘n versoeking en ‘n behoefte
om meer te weet en te hê as wat jy nodig het.
Ek het wel gelees dat daardie vrugte deur almal geniet is. Ek het wel
gelees dat die versoeking en genieting mense se oë oopgemaak het vir wat hulle
is. Laastens het ek ook gelees dat die mens nie maklik verantwoordelikheid neem
nie en graag mekaar blameer.
Dus, aan my kind, die pad is lank en
swaar vorentoe. Daar is baie mooi en baie lewe om te geniet, maar daar is baie
van jouself wat jy gaan moet sien en erken. Aan die mensdom vasgevang in hul
ewige proses van emansipasie, in hulle veldtogte van hutstekens en kommentare
op twitter almal oortuig hulle dra die kennis van goed en kwaad in hulle hand,
haal ek aan:
“Hoe het jy
te wete gekom dat jy kaal is? ...Die mens het geantwoord: “Die vrou wat u my
gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek
het geëet.”
Toe vra die
Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my
mislei, en ek het geëet?”
Ons werp onsself in populêre
kwessies in. Ons spoeg vuur en swaai ons gebalde vuiste rond teen die onreg in
die samelewing. Ons veroordeel geweld en regverdig weerwraak. Ons wys vingers
na mekaar, want alles begin mos by die ander een, maar wat ons nie een kan
ontken nie is “ek het geëet”.
Kom ons bly bietjie stil, en gaan
kruip weer agter die takke weg, maar die keer sien jou kaalheid en erken dat
ons almal deel het en skuld het in die lewe en die haat.
Niggie jou woorde is waar.
AntwoordVee uitDankie.