Almal se sin het 'n punt nodig!

 

"Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag." (Psalm 23: 2-3)


Almal se sin het ‘n punt nodig.

Ek skitter nou nie juis in leesteken gebruik nie. Ek sukkel om te weet of ‘n woord los- of vasgeskryf word.  Ek is haastig en wil kommunikeer, in die proses is ek agtelosig met my komma’s en kommapunte verstaan ek nog nooit nie, maar ek weet hul bestaan, soms vergeet ek van ‘n vraagteken en redeneer my leser is slim genoeg. Die een leesteken waaroor ek seker is, is ‘n punt. Almal se sinne het ‘n punt nodig – ons het almal nodig om te weet wanneer om te stop... of om net bloot, weens die vereistes en reëls aan sinne, gedwing te word om te pouseer, vertoef en selfs vir altyd stil te bly.

Daar is verskillende tipe sinne: Daar is sinne wat baie beskrywend is vol byvoeglike en bywoordelike bepalings en ook bysinne wat konteks wil skets. Hierdie sinne val hulself soms in die rede, net om by die komma weer asem te skep. As die gebruikers van sulke sinne uiteindelik tot die punt kom, slaak jy moeg en opgeluister dikwels ‘n sug van verligting. Daar is die kort en kragtige sin, of sogenaamde sterksinne met sterk werkwoorde – net onderwerp, werkwoord en voorwerp (of net onderwerp en werkwoord). “Ek min jou!” Hierdie sinne kan jou soos ‘n kishou uitslaan. Ons kry ook ‘n derde tipe sin, wat nie ‘n werklike sin is nie, want die sin het nie ‘n punt nie.  Hierdie sinne word dikwels deur die sosiale media surfers gebruik. Dit is ‘n reeks afkortings met getalle en letters wat soms saam gebruik word om sin te gee aan iets wat vir my sinneloos lyk.  Hierdie sogenaamde sinne is baie kort en stop gewoonlik voor die argument uitgebou en ondersteun moet word deur bysinne en bepalings. Maar, eintlik stop hierdie sinne nooit nie en is ook nie geanker nie, dit is dikwels leeg aan werklike besinning oor die lewe. Besinning verg woorde, woorde wat volgens reëls en in samehang met ander woorde op ‘n bladsy geplaas word en afgesluit word met ‘n punt. As mensdom bevind ons onsself op die punt waar ons hierdie laasgenoemde sin leef.

‘n Kollega en vriendin vra my die ander dag, ‘n dag voor die einde van hierdie voortslepende derde kwartaal, of ek ook reg is vir ‘n punt in my lewe. Haar leesteken-grappie het my aan die dink gesit oor tot stilstand kom en stilword. In Maart het almal gepraat oor hoe die wêreld dalk nodig gehad het om ‘n bietjie stiller te word en teen ‘n rustiger pas te funksioneer. Almal het gedink dit is die beste tyd vir sinmaak van jou lewe en weer die waarde van die familie ontdek. Ek moet erken dat as ek terugdink aan die einde van verlede jaar en die eerste drie maande van hierdie jaar, is daar net een woord wat dit beskryf: WAANSINNIG! Vir wat, wonder mens, het jy so rondgehardloop. Nou staan ons egter sewe maande later en ek is nie oortuig dat ons werklik stadiger beweeg nie en minder geraas maak nie.

Ek dink dat Covid 19 net ‘n klomp komma’s in ons sin geplaas het, maar geen punt gebring het nie. Ons het aan nuwe gonswoorde gedink en hutstekens meer doelbewus begin gebruik en in die proses besluit om die punt by die deur uit te smyt.  Ons kan mos aanlyn aangaan. Almal is 24-uur van die dag beskikbaar. Middernag-data is goedkoper as dag-data en opdragte en eposse stroom in na twaalf. “Bubble, bubble toil and trouble...” Die wêreld om ons het terselfder tyd kleiner en groter geraak.  Ons webinar, lig in en praat met die wêreld oor alles... oor niks. Ons praat so baie, dit het nie ‘n punt nie.  Die luisteraar is al moeg en soek ‘n pouse, ‘n breek, ‘n kans om te vertoef.

Die mensdom is baie bang vir ‘n punt. ‘n Punt aan die einde van die sin beteken jy moet dink oor dit wat jy geskryf het of verwerk wat in die sin gesê is. ‘n Punt is ‘n oomblik van goddelike intervensie. Dit wat gebeur by die punt, in die stilte, is nie sigbaar nie en ook nie hoorbaar nie. Dit is net ‘n onsigbare wonderwerk van singewing en verstaan. Dit is die punt van energie skep en aangaan met die volgende sin. Die punt laat jou drink by die waters van vrede. Ja, ons het almal ‘n punt nodig, al vrees ons die stilte en al is ons bang oor waar die stilte ons gaan vat, ons het dit nodig!

Soms is ons bang vir ‘n punt aan die einde van die sin, want dit beteken ons het ons storie klaar vertel en ons het nie meer iets vir die leser om te lees nie. Skoolkinders is mal om opstelle te eindig met ‘n ellips om aan te dui dat die einde van hierdie verhaal nog nie bereik is nie en jy kan daarvan maak wat jy wil. Mens kan hulle nie kwalik neem nie, want dit is ongelooflik moeilik om as jy jonk is te dink dat ‘n lekker storie ooit moet einde kry. As jy ouer raak, raak jy bewus van die wonder van ‘n goeie slotparagraaf en slotsin. Ellipse is vir stories wat kortgeknip is. Ons wil verkieslik almal klaar praat, klaar liefhê en klaar huil, maar hoe wonderlik is dit nie om die punt aan die einde van daardie storie te plaas nie en te voel dat jy klaargepraat het en nou kan rus. Die PUNT gee jou toestemming om jou boek toe te maak, op te staan en by die feesmaal te gaan aansit.

Laat ons nooit die waarde van die PUNT in ons sin vergeet nie. Laat ons weet wanneer om te rus, wanneer om te pouseer, wanneer om te stop ... en uiteindelik wanneer om net stil te raak.


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Moderne Slawerny

Hoekom het jy bestaan jou boggelrug-spoegbek-sussie van my?