Weet dat jy werklik werklik is.

 

Foto: Marie du Plessis

Weet dat jy werklik, werklik is.

“Can you surround me, so I’ll know that I am really real.” – Bob Dylan

As ek die dag voel dat die lewe begin om so vinnig om my te spin dat ek die kans staan om los te skeur van dit wat my geanker hou, hou ek daarvan om na Bob Dylan te luister. Sy onmelodiese stem, wat vir sommige na niks anders as ‘n gekerm klink nie, en sy oënskynlik sinnelose gerymmelary balanseer die onstuimigheid in my gemoed uit. Dit is daardie “wit geraas” vir my siel.

Dit is dan as ek rustiger raak wat sy lirieke deurdring na my en ek die hartseer, die woede, die liefde en soms net die laf van sy liedjies begin begryp. Ek luister gister na ‘n minneliedjie en die slotwoorde van die liedjie, “can you surround me, so I’ll know that I am really real”, het wortel geskiet in my siel.  Dit het my laat besef dat ons vanjaar deur 'n pandemie en paniek, tot ‘n groot mate, van ons sin van real-wees beroof is. Ons is beroof van ons vaste bakens: die jaar wat voorspelbaar volgens ‘n vaste patroon verloop; van vaste gebeure waarna ons kan uitsien en wat ons dikwels uitgeput, maar met ‘n gevoel van selfverwesenliking gelaat het; ons is beroof van dinge om na uit te sien, en ons is beroof van aanraking van ander wat op ‘n vreemde manier vir ons verseker dat ons is.

Hartseer gebeure hierdie week in my plaaslike gemeenskap van twee dogters wat binne ‘n kwessie van 48 uur hul eie lewens geneem het, het my sprakeloos gelaat en diep bekommerd oor hoe hierdie jaar ons jeug beïnvloed het. As Ma kon ek aan my eie kinders sien hoe die konteks van inperking hul emosioneel laat wipplankry het – van die agtjarige tot die twee-en-twintigjarige. ‘n Gevoel van desperaatheid wat ingetree het en hartseer, sonder om ‘n werklike rede daarvoor te kan gee, want dit wat hul ervaar in hul eie terme en eie gedagtes is nie tasbaar nie en nie “really real” nie. Hulle kan dit nie beskryf nie en ook nie verklaar nie. Emosies kom dikwels in trane uit en as ouer kan jy help deur die tasbare, deur ‘n drukkie te gee en te sê dat jy belowe dat dit  verby sal gaan. My kinders praat met my, maar daar is baie kinders wat nie praat nie.  Hulle praat met vriende in virtuele ruimtes, waar hulle en die vriende bloot abstraksie van hulself is.  Hul word omring met ‘n oorvloed van beelde en klanke wat hulle sat en oorversadig laat, verward oor dit wat hul ongemaklik met hulself maak. Die lewe is nie “really real” nie.

Ek sal nooit kan verstaan wat deur daardie dogters se gedagtes gegaan het nie en as samelewing het ons almal opinies oor iets so drasties. Wat ‘n mens wel kan weet, is dat daar waar die dogters in hulle laaste uur was, uiters werklik was. Hulle moes uiters desperaat, uiters nietig en uiters Godverlate gevoel het. Dit is die hartseer, hulle moes nie so gevoel het nie. Met hierdie gevoel in my hart ontvang ek ‘n meditasie-stuk van die geestelike-vader in my lewe, Carel Anthonissen, wat toevallig spreek tot die onstuimigheid wat in my heers. Die teks is soos volg:

 Want ek is versekerd dat geen dood of lewe, of engele of owerhede, of magte of teenwoordige of toekomstige dinge, of hoogte of diepte, of enige ander skepsel ons kan skei van die liefde van God…(Romeine 8:38-39, 1933 Vertaling)

 

Hierdie is ‘n gedagte om aan vas te hou en troos te bied vir die ouers wat hul kinders verloor het. Hul kinders het hartseer en godverlate gevoel, maar hul was nie. Hul het geskei gevoel van alles en almal, maar hul was nie, hulle kon dit net nie sien nie.  God het nou die verantwoordelikheid geneem om hulle wat in ‘n spieël gekyk het te vertroos dat niks hulle van die liefde van God kan skei nie.

Vir ons wat lewe, moet ons besef dat ons nooit werklik alleen is nie. Ons is nie onbelangrik nie, ons maak nie, nie saak nie. As ons wil opgee as ons die pyn wil laat verdwyn, leef ons onbewus van hoe ons reeds ‘n ander se lewe geraak het en onbewustelik verryk het. Aan die anderkant as daardie onstuimigheid in jou gemoed stilraak, moet ons ook besef dat ons ‘n verantwoordelikheid as gemeenskap het om nader te staan, hande te vat en mekaar te omring met die selflose liefde van God, sodat ons weet dat ons almal werklik, werklik is.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Moderne Slawerny

Hoekom het jy bestaan jou boggelrug-spoegbek-sussie van my?