Boksies

 


Met erkenning aan Antoinette Veldtman

Boksies.

Ek weet ek gaan baie kritiek ontvang van almal wat van persoonlikheidstipes en al wat ‘n nuutste foefie betreffende persoonlike groei is, hou. Sjoe! Daar het ek reeds verklap hoe ek daaroor voel. Ek wil egter duidelik maak dat wat ek sê nie ‘n aanval op hierdie teorieë is nie (hul het almal meriete in eie reg), maar ontvang moet word as stem van die anderkant van die skaakbord.

Jare terug moes ek by ‘n personeelontwikkelingsessie opleiding kry in een van hierdie ken-jouself teorieë. Ek kan nie die naam van hierdie teorie onthou nie, maar jy is ‘n kleur toegeken – iets soos ‘n rooi, blou of geel. Ek weet nie hoeveel hierdie persoon betaal is nie. Daar was elemente van waarheid in elemente van wat sy gesê het, maar uiteindelik as almal gaan sit en dink was daar in hulle in elk geval elemente van elkeen van daardie kleurgroepe. Was hierdie ontdekking nie iets wat jy in elkgeval voor die tyd geweet het nie? Dit is nietemin ‘n oulike speletjie en almal doen lekker mee. In die daaropvolgende twee weke loop almal rond en vertel jou watter kleur hulle is: Ek is mos ‘n rooi, baie opvlieënd. Dit is wanneer ek wil sê: “Nee, jy is nie rooi nie, jy is Minette. Jy is opvlieënd, maar jy is ook...”

Mens wees kan nie in bokse gedruk word nie.

Ek is in niks wat ek doen in die lewe ‘n dweepsieke nie – gebore agterdogtig om my liggaam en verstand uit te verkoop aan iets. Ek glo egter dat die mens na God se beeld geskape is en as mens aanneem dat God is wie God is en so beskryf word omdat dit nie moontlik is om die opperwese te kan opsom nie, dan moet ons ook glo dat ons as afbeeldings van God, is wie ons is.

Dit is seker hoekom ons van persoonlikheidstoetse hou, want ons self weet nie wie ons is nie.  Ons wil hê iemand of iets moet ons sê wie ons is. Dit werk egter nie so nie. Ons groei en verander. Soms raas ons en soms is ons stil. Soms moet ons net besef dat ons nie weet nie en dat God ons paadjie en ons wees, giet en vorm gee. Ons moet onsself spasie gee om te ontdek wie ons is, maar ons paadjie van selfontdekking is egter nie ‘n paadjie van “self”-ontdekking nie – jy ontdek ander. Jy ontdek hoe jy reaggeer op ander en so ontdek jy jouself, jy ontdek hoe jy optree teenoor ander en so ontdek jy jouself, jy ontdek waar jou energie vandaan kom en so ontdek jy jouself.  Hierdie ontdekkingsreis of hierdie reis waartydens jy jou storie skryf, is ‘n heilige reis soos die skepping self en die woordjie “ek” speel ‘n baie klein rol daarin. Uiteindelik is dit God wat asem in ons inblaas en sê: EK het jou gemaak en jy is wie jy is.

Kategorieë wat aan jou toegeken word, is nie daar om jou tot groter selfkennis te lei nie.  Dit is daar om vir jou ‘n boksie toe te ken en ander mense te help om jou beter op hulle skaakbord te kan rondskuif. Dit help as jy meedoen aan die speletjie, want dan kan hulle jou altyd herinner aan wie jy is.  Die een wat die swaarste kry in hierdie boksie-toekenning speletjie is die stil persoon. Stil is die skelwoord van ons tyd. Jy is so stil mens, sal mense vir ander sê en hul in boksies plaas. Die gebrek aan woorde uiter, beteken egter nie dat daar ‘n gebrek aan woorde is nie. Stilmense praat baie, maar net nie noodwendige met ander nie. Dit is dalk wat stilmense ongewild maak – die feit dat ander nie weet wat gesê word oor hulle en die wêreld nie.

Stilmense word ommiddellik karakter eienskappe gegee. Hulle is introverties, skaam, onambisieus en my absolute gunsteling, die aanname dat stilmense aan selfvertroue ontbreek. Dit maak ‘n mens so kwaad, maar dit is onmoontlik om teen daardie aanname te baklei, want die gewer van die etiket het jou reeds ‘n rol gegee en die enigste manier om daarvan te ontsnap is om te konformeer tot hulle definisie van hoe ‘n persoon met selfvertroue optree óf om te baklei en met geweld los te breek van die etiket. Jy moet egter nie bekommer nie, want daar is opvolg-etikette as jy die laasgenoemde koers van aksie neem. As jy die etiket, die rol, die boksie wat jou toegeken is, weier dan is jy weer negatief, krities en nie ‘n spanspeler nie. Die stilmens het eintlik net een keuse en dit is om stil te bly, saam te speel en ander toe te laat om op ‘n neerbuigende wyse met jou te praat. (Soos julle kan agterkom was ek al baie in daardie posisie, maar ek konformeer nie en dra gevolglik dikwels die etiket as negatief.)

Dit is vir my wreed om mense te wil kategoriseer. Ja, ek weet dit is nie die enigste rede vir al hierdie sielkundige persoonlike groei teorieë nie. Ek weet dit is hulpmiddels, maar as jy aan die verkeerde end van daardie maatstok deur ‘n ander gekategoriseer word, is daar nie veel hulp in die middel nie – net ‘n etiket wat soos ‘n strop om jou nek is. Daar is mense wie se lewens bloot net nie regverdig verloop het nie. Daar is mense wat ‘n las dra, veel swaarder as wat enigiemand veronderstel is om te dra, moet nie aan hulle nog ‘n boksie toeken nie. Dit is gewone mense in jou gewone lewe wat elke dag langs jou loop en ons wil graag aan hulle boksie toeken, maar wie hulle vir jou blyk om te wees is net ‘n refleksie van die pyn en die gesukkel en nie die loutering wat na binne plaasvind nie.

Sonder om te lank hierdie praktyk wat meer mense gelukkig as ongelukkig maak aan te val, gaan ek positief raak en ‘n voorstel maak. Ek gaan self met my eie persoonlike groei teorie navore kom, met ander woorde ek gaan saamspeel. My persoonlike groei teorie is egter moeilik en iets waaraan mens jou hele lewe moet werk om te vervolmaak, maar terselfdertyd is dit maklik, so maklik soos om asem te haal. Spasie. Spasie dit is waaroor my teorie gaan. Ons moet leer om mekaar spasie te gee, maar ook aan onsself.  Ons moet die boksies en die voorskryf in die solder gaan bêre en begin om net bloot die pad met ander te stap, want so sal ons almal ontdek tot wie die ander groei om te wees. Ons sal voel wie die ander is eerder as om hulle klinies met ‘n maatinstrument te meet en te kategoriseer. Ons moet ruimte gee om te ontdek tot wie die ander ons laat groei en ons moet ruimte gee om so bietjie stil te word en te erken dat wie ons is, is ‘n immergroeiende proses van wonder wat tussen ek, die ander en God vorm kry.

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Moderne Slawerny

Hoekom het jy bestaan jou boggelrug-spoegbek-sussie van my?