Alleen uit genade.
Alleen deur Genade.
Onlangse gebeur in my lewe, en dit het niks te doene met
Covid nie, dwing my om te worstel met die vrae: Hoekom? Wat is genade? Is daar
iets soos geregtigheid?
Om hierdie vrae in hierdie tye te vra kan ‘n persoon soms
verslae laat en dalk Godverlate laat voel, want dit wat jy dink die antwoord
moet wees, klop net nie. Dit maak nie sin nie. Waar is jou God wat die goeie
wil? Waar is jou beskermende hand? Hoekom word jy nie geseën nie? Hoekom is dit
die mees brose in die samelewing wat altyd uitgebuit en misbruik word? Hoekom
word kinders nie beskerm van die bose nie?
Hierdie is vrae waarmee ek worstel. Verbasend genoeg,
voel dit vir my asof ek tog geantwoord word, maar die antwoord is nie ‘n
maklike een nie. Ek dink tans aan die verhaal van Adam en Eva en die Boom van Kennis
van Goed en Kwaad. Ek dink aan Abraham wat sy seun Izak gevat het om te offer.
Ek dink aan die verhaal van die duiwels wat in die varke ingedryf word en ek
dink aan Jesus wat die grootste prys betaal het om ons los te koop van die
sonde. Iewers tussen al hierdie verhale op ‘n amper onverwoordbare vlak lê die
antwoord wat aan my gestuur word: Dit is genade.
Ek hoop as julle lank genoeg dink daaraan en dit net daar
laat lê, sal julle dalk ook hoor wat ek hoor. Tog, sal ek waag om my gedagtes
te verwoord. Genade is dit waarvan die Boom van Kennis van Goed en Kwaad ons leer.
Dit is egter so moeilike en komplekse konsep dat vir ‘n mens is dit bykans
onmoontlik om te verstaan. Genade vir ons beteken om gespaar te word van ons
sonde, om ‘n uitkoms te kry nader aan wat ons sien as ons eie doel in die lewe,
genade beteken om geseën te word. Ons meet dikwels genade aan baie wesenlike
dinge. Binne ons kapitalisties verwesterse wêreld het ons ‘n lewe van genade,
vergifnis en seën vertaal in materiële voorspoed en morele aansien. Dit is ook
hoekom tradisionele kerke meestal hul sending mik op die armer gemeenskappe.
Die vraag is as jy arm is, as jy nie geleenthede kry nie,
as jy verkrag is as kind of volwassene, as jy slagoffer is van geweld, as jy
swak en weerloos voel, leef jy noodwendig ‘n lewe waar genade ontbreek. Die
eenvoudige antwoord is, Ja! Dit is so maklik om te voel dat God jou naam
vergeet het as hierdie realiteite joune is. Sielkundiges sal ook vir mens
vertel hoe ‘n lewe van trauma amper onherroeplike fisiese en emosionele skade
aan ‘n mens berokken en die hedendaagse tronke vol hou. Genade sou tog beteken
dat hierdie negatiewe goed nooit gebeur nie, maar ongelukkig is dit nie die
geval nie. Hier is waar die moeilike deel inkom. ‘n Mens moet bereid wees om
die stereotipiese idee van genade af te sterf. Genade is soms nie om gespaar te
word van die onreg nie, genade is die feit dat jy dit oorleef. Genade is as jou
hand gevat word en dat in die midde van alles wat met jou gebeur jy so styf vasgehou
word, dat die onreg jou kan stamp en noodlot jou kan sny, maar dit wat jou mens
maak essensieel beskerm word. Genade is om steeds na alles die mooi te kan
sien, om steeds te kan lag en steeds lewe te kan voortbring deur wat jy doen en
dink. Dit is genade.
‘n Mens kan nie slegte wegwens en beveel om eenvoudige
nie op jou pad te kom nie. Dit is net daar. Selfs Jesus het nie demone wat
daardie man uitmekaar geskeur het, net oombliklik doodgemaak en in die niet in
laat verdwyn nie. Hulle is verplaas van die mens na die varke en so het hulle
hulself in die afgrond ingedryf. Die arme varke het egter betaal. Dit is dus
ook iets waarvan ons moet bewus wees en deel van die moeilike kant van die
lewe. In die lewe is daar altyd iemand wat ons loskoop of ons vrykoop. Iemand
wat ‘n las moet dra sodat ander gelukkig kan wees. Ons kan wil dink dit is nie
die geval nie, maar ons moet egter net ‘n bietjie daaraan dink. Ons lewens in
heroënskou neem en ons sal sien dit gebeur. Ek kan nog onthou hoe mooi die
verhaal van Abraham en Izak in my Kinderbybel geïllustreer was, maar selfs die
mooiste illustrasies kon nie die geweld van die verhaal wegsteek nie. Hoekom
moes hy seun offer? Al die Sondagskool verklarings kon my nooit ‘n antwoord op
daardie onredelike versoek gee nie. Die lewe het wel. Abraham moes bereid wees
om iets prys te gee wat hy meer as die lewe self lief gehad het. Izak was die
onskuldige slagoffer, maar as Abraham wel vir Izak moes prysgee, sou hy nog
Abraham gewees het, sou hy nog die mooi in die lewe gesien het en God se naam
kon prys. Sy geloof het hom gedryf om die opdragte na te volg, maar God se
genade was groot. Hy het geweet wat hierdie versoek uiteindelik aan Abraham sou
doen. ‘n Offer moes gemaak word. In die Ou Testament moes die arme bokkie
intree en sy lewe en onskuld offer, soos die natuur tot vandag toe nog geoffer
word vir ons verwesenliking van voorspoed. Uiteindelik was dit egter Jesus wat
die Offer moes wees. Dit is slegs God wat daardie las kan dra en die woede en
haat wat met die verlies gepaard gaan kan oorwin. Dit is die verwesenliking van
genade.
So, loop die aarde, veral deesdae vol van slagoffers of offers.
Ons is altyd dankbaar dat die geweld nie met ons gebeur het nie, maar die
realiteit is, dit het. Elke mens wat “geoffer” word, koop ons vry dat geweld nie
vandag jou kant toe gekom het nie. Jou onskuld is nie van jou beroof nie. Ons voorspoed,
ons moment van genade kom met ‘n prys. Daardie prys is eintlik nie ‘n groot een
nie. Dit is om te besef dat ons ‘n verantwoordelikheid het teenoor mekaar, dit
is dat ons moet streef om die goeie te vermeerder. Ons is nie net individue wat
ons eie heil skep en antwoorde vind nie. Ons kan nie slegte weghou met
diefwering en sekuriteitsfirma’s nie. Ons moet bereid wees om onsself en alles
wat ons so lief het prys te gee, bereid wees om te erken dat ons op die vreemdste
en nie altyd redelikste maniere losgekoop is deur ander om ons en dan moet ons
bereid wees om God se voorbeeld te volg en nie op te gee op die lewe nie. Ons
moet die goeie vermeerder en die kwade verdryf deur lewe te skep, die mooie te
skep, omgee te skep en dankbaar te wees, sodat die bose figuurlik in die varke
ingedryf kan word en hulself vernietig.
My skrywe is nie gebore uit ‘n isoteriese liefde vir
woorde en abstraksies nie, maar ‘n belewing van ‘n gebroke werklikheid. Ek is
egter nie gelaat in ontnugtering nie, maar is eintlik gevul met ‘n gevoel van
verwondering oor hoe die Bybel met ons praat deur konkrete verhale van hoop.
Ons moet net luister en die hoop uitleef.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking