“Lets go fly a kite up to the highest height. Up where the sky is clear…”
“Lets go fly a kite up to the highest height. Up where the sky is clear…”
Hierdie ou filmpie uit 1965 is op soveel vlakke relevant tot die konteks waarin ons staan. As onderwysers dink ons natuurlik eerste aan die kindertjies wat voor ons in die klaskamer sit - die arme misverstaande liefies, eintlik almal soekend is na liefde, begrip en leiding. Ons oortuig onsself om in selflose dade meer begrypend, akkommoderend en aanvaardend van hul te wees. Dit is egter nie na hierdie boodskap van die film - oor die generies verwaarloosde en afgeskeepte kind - waaraan ek vandag wil aandag gee nie. Ek besef alhoemeer dat die gevaar eerder groter is dat ek myself moet vergelyk met die ouers in die verhaal. Dat ek van bakboord na stuurboord hardloop (of in die verkeer sit in my motor) my eie kinders inlaai en uitlaai, hulle nie eens werklik sien nie, net sê, “Mamma is lief vir jou”, maar eintlik dink ek aan hoe ek nou die perfekte resep het om die matrieks te kry om beter opstelle te skryf. Dit gebeur ook dikwels dat werksverpligtinge jou dwing om ‘n keuse te maak om of jou eie kinders te gaan ondersteun of die leerder van jou skool waarby jy werk. Gewoonlik kom jou eie kinders tweede. Dit is gewoonlik ‘n ouma, tannie of iemand anders se ma wat daar langs die veld staan of in die saal sit vir jou kinders. Ag, daar is so baie situasies wat mens kan lys waarin jy en jou gesin se welstand agterweë gelaat word.
Ons vergeet dat ‘n mens balans in jou lewe moet handhaaf. Soms voel jy dat jy
nie ‘n reg het tot balans nie. Soms voel ons dit is ons Christelike plig
om te bly gee, maar God is die grootste ouer en soos ‘n besorgde Pa gee Hy ons
die riglyne dat ons ons naaste so lief moet hê soos onsself. Balans tussen gee
en neem, liefde en haat, plig en ontspanning, deelname en onttrekking is ‘n
Goddelike toestand. Balans is ‘n toestand waar grense met liefde gestel word,
soos God die grense gestel het aan die waters bo die hemel en die waters onder,
nooit sal die chaos ons weer bedreig nie. Vir ons as mense is dit moeilik om
hierdie balans te handhaaf, maar as ons nie probeer nie, is ons ook nie in staat
om ‘n verskil te maak in die lewens van ander nie. As ons nie balans
handhaaf tussen die kinders in ons klasse en die kinders in ons huise nie, sal
dit ons eie kinders wees wat die liefdelose vervreemde wesens is.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking