Laat daar Lewe wees.


 Laat daar Lewe wees.

Ons het almal daardie dingetjies wat met ons gebeur wat ons konstant kan herinner aan die sloer van die lewe. Die outomatiese hek van ons erf het byvoorbeeld gebreek... al ses maande terug. Ek en my man, glo dit of nie, was te besig om iemand te soek om te bel om dit reg te maak. Nou klim ek maar soggens, smiddags en saans uit die motor en gaan maak daardie hek met ‘n gebeur en gesteun oop en toe.

Die ander dag om halfses die oggend is ek weer besig om die hek oop te maak vir die soveelste keer. ‘n Klein Jakkalsie glip in en die stemmetjie mor: Hoekom kon my man nie, maar net iemand al gebel het om die hek reg te kom maak nie?

Ek is moeg, die jaar was besonder lank en ek was só besig dat elke dag bykans ‘n 14 uur-werksdag was. Ek het myself, in ‘n blinde geloof dat dit goed vir my beroep is, daartoe verbind om matriekantwoordskrifte na te sien en dit is toe waarheen ek oppad was. Nog ‘n twaalfuur skof van sewe tot sewe. Dit was dag tien van nasien en my moeg was moeg en dan nog die hek...

Ek gaan deur die gewone sloer van eers die hek gaan oopsluit en dan my motor uit die motorhuis uit maneauvour om by ‘n redelike styl bultjie op deur díé hek te ry. Dan weer vinnig uitklim en met moeite die foutiewe stram arms toe te beur. Soos ek beur, kyk ek op en slaan my oë op na die Groenberg van Wellington wat majestieus en tydloos vir my loer. Die berg se wolkkombers glip plek-plek van sy lyf af en hy word gekielie met warm geel strale. Die sluimerende vallei aan sy voete is lower groen en rustig. Die woeste wind van die vorige twee dae het ‘n stil briesie geword en praat nou met ‘n sagte stem. Bietjie uitasem van die hek toemaak, word ek oorweldig met die heilige oomblik van lewe waaraan ek deelgehad het.

Ek klim in my motor en ry weg werk toe. Die toneel speel homself egter heeltyd in my geestesoog af en ek voel geseënd. Soos ek ry bly ek net die mooi sien. Die oggendlig is goud en in die verte sien ek Tafelberg ... en selfs ‘n lugballon om daardie poskaart-gevoel mee af te sluit. Ek is dankbaar dat die wind wat so aan my motor geruk het, stiller geword het. In my enigheid in die stilte van my motor met al die mooi om my kry ‘n vreemde gedagte vorm: “As jou man daardie hek laat regmaak het, het jy nooit teruggekyk nie ... het jy nooit gesien nie en het jy nooit die kans gehad om oorweldig te wees met God se vertroue nie.”

Ek weet meeste verwag dat ek sou sê: “Met God se genade.” Hoewel alles genade is, het die wind nie daardie boodskap aan my oorgedra nie. Ek het in mý oomblik gehoor, wees dankbaar in die lewe wat ek vir jou gegee het en die mooi wat jou omring. Wees dankbaar dat jy moeg is en dankbaar dat jy kan werk. Wees dankbaar dat ek jou vertrou het en vir jou al hierdie skoonheid en al hierdie lewe in een oomblik openbaar het. Koester my vertroue en maak die meeste van die lewe.

Sedert daardie oggend is ek op my eie Damaskuspad. My gedagtes werk met hierdie idee om vertrou te word met lewe. God is Lewe en die Lewe in my is deel van God en dit moet voortgebring kan word. Dit is egter nie net in my wat die lewe is nie, dit is in almal en alles om my. Ek word vertrou om die Lewe te koester, dit is ‘n geweldige eer. Ek moet dit oppas, maar nie gaan begrawe of toesluit soos ‘n skat wat ek nie wil hê ander moet toegang tot hê nie. Ek moet LEWE. Ek moet werk en vreugde daarin vind. Ek voorsien vir my kinders. Ek maak ‘n verskil in ander se lewe. Ek leer by ander en so rippel die lewe voort...

Ek moet egter ook stilraak en sien. Ek moet myself vashou en oppas en ek moet oopmaak dat ander se liefde en omgee my vul. Ek moet nie net voortjaag in die lewe om mylpale te bereik, dinge op ‘n CV te kan skryf of ekstra geld te verdien nie. Wat ek doen met die lewe waarmee ek vertrou word, MOET betekenis hê. Ek moet kan en wil terugkyk en die wind hoor sê: “...en dit was goed.”

Ek weet nie of ek so voor Kersfees, waar die geskenk van die lewe weer aan ons belowe word, kan sê dat my jaar goed was nie. Dit was besig en ek het baie geleer. Ek is ek genoop om terug te kyk en te besef miskien  moes ek eerder soms my dogtertjies nader getrek en gedruk het en beter na my man geluister het. Miskien sou die hek al reg wees as ons beter saamgewerk het en nie net ons eie agendas nagejaag het nie. Maar soms is daar baie genade in ‘n stukkende ding, en baie boodskappe in die gesloer van die lewe.

Soms ruk die wind vir dae aan jou ruite sonder dat jy luister en dan uiteindelik, in oomblik heeltemal onverwags HOOR jy ... SIEN jy ...

LAAT DAAR LEWE WEES.

U wat op die wolke ry,

op die vleuels van die wind,

U wat die winde u boodskappers maak,

die weerligte u dienaars,

5U wat die aarde stewig gevestig het,

sodat dit nooit sal wankel nie.

Psalm 104: 3-5

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Moderne Slawerny

Hoekom het jy bestaan jou boggelrug-spoegbek-sussie van my?