'n Wegglippie

‘n Wegglippie…




Ons het almal daardie ruimtetjie waar jy dink jy kan gaan sit en sielerus vind, wegglip van die verpligtinge en onaantasbaar in jou enigheid die geluide van die lewe, ‘n afstand van jou af aanhoor. So, is ek ‘n rukkie terug van eksamentoesig verlig. Ek loop ‘n draai en rek my bene, net om onverwags ‘n bankie te sien, effens versteek, maar tog aan die een kant verlig deur die lui-warm winterson.

Die bankie het my naam geroep. Ek sit en krap deur my handsak vir my Granny Smith en 'n sakmessie om haar dik, groen, suur, skil mee af te skil. Het ek nou in die personeelkamer gesit en die geure van ander se middagetes geruik, sou my Granny Smith, maar baie beskeie, amper spartaans vertoon het. Hier, op my weggesteekte bankie in die sonverligte hoekie vertoon haar skil lower en ryk – ‘n                 koningsfees!

Ek vind my messie nie... Ag wat ek sal net die murg uit haar byt. My tande knars deur haar vlees en dit maak ‘n lieflike geraas, soos die lewe in haar oopbreek. Die sap spat heel onbehoorlik uit, mors skoon op my broek en loop oor my hand. Aan die oorkant van die grasperk kyk ‘n eekhoring vies op, asof hy sê: “Sjoes! Jy versteur my vrede.”

Ja, vir so suur vruggie is daar darem baie vog in haar. Wys jou, jy weet nooit wat jy in iets oënskynlik beskeie het nie.

Oral om my kwetter voëltjies en die graad 2’tjies se veraf gilletjies, soos hul netbal speel, vul my met ‘n gevoel van behaaglikheid. Ek sit net en luister... Die eekhoring is weg, nie weer kom kyk wat ek daar maak nie. Oor my spoel ‘n dankbaarheid vir al hierdie ongelooflike skoonheid om ons, vir wegglip hoekies, maar ook die geluide van die lewe wat my roep, my interesseer en my lok om weer op te staan en weer te gaan deelneem.

Ek gooi die stronkie in die asblik en hoor hoe iemand van agter my roep: “Juffrou, juffrou! Ek het iewers laasweek vir Juffrou my opstel gestuur. Het Juffrou al dit gelees?”




 

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Moderne Slawerny

Hoekom het jy bestaan jou boggelrug-spoegbek-sussie van my?