Rus in die Roetine
Van Rus vind in Roetine…
Ek wil vanoggend die spesiaal in my lewe met jul deel. ‘n Roetine wat soggens
herhaal en al raak ek moeg daarvoor en skreeu ek soms gefrustreerd uit dat ek tog
net asseblief hierdie oggend kan oorslaan, verryk dit telkens my lewe en voed
dit my siel.
Ek weet dat julle dink ek gaan julle nou wil oortuig om vroeg op te staan,
die slaap uit jou hare te kam en die pad vir ‘n oggendstappie te vat. Nee,
hoewel ek geensins die waarde van suurstof in die longe en die goud in die môrestond
betwyfel nie, sit die slaap nog dik in my hare en skuifel ek in die donker in
my pantoffels rond. Ek praat van die vroegoggend voedingsroetine van my honde,
Sebas en Sofia!
Hierdie roetine is my kruis, maar soos kruise ook maar is, terselfdertyd my
redding. Daar is niks wat die siel so voed, soos om in die vars afwagting van ‘n
hond se oë te kyk nie. Ja, hul kan
knaend wees, maar tog so oulik.
Verlede Junie toe die skole heropen het vir die matrieks moes ek vroeg opstaan en die res van die gesin het steeds bly slaap. Soggens, sou my wekker half-vyf afgaan. Met die eerste gekriek van die wekker sou my Golden Retriever, Sebas, op wees, lyfskuttend na my kant van die bed kom en enige ledemaat wat nie deur die beddegoed bedek is nie, begin lek. Ek was en is steeds nie beïndruk nie. Dit was sy manier om vir my te sê: “Dit is tyd. Voer my nou!” Hy wou niks hoor van dat dit dou voor dag is en die bure nog nie eens wakker is nie. Dit is hoe die roetine van hondvoer half-vyf die oggend begin het.
Die ritueel het egter verder uitgekring om ons grendeltyd hondjie, ‘n
Duitse Herdershond genaamd, Sofia ook in te sluit. Sy slaap by my dogter en as
ek en Sebas dit by die kamer deur uitmaak, hoor ons haar krap om ook uit te
kom. Ek weet nie of julle vertroud is met die spits van ‘n Duitse Herdershond
se ore nie, maar deesdae as my wekker sy eerste oggend trilling gee, klap sy aan
my dogter se deur vir diens. Sebas het al laat blyk dat hy gediend sou wees om
nog so vyf minute in te sluimer. As Sofia, egter gebied, is ons almal op ons
plek. Ek soek my pantoffels en kamerjas in die half-donker met Sebas se stert
en tong wat my afwisselend aanmoedig om tog gou te maak: “Sy roep!”
As sy eers gebied het, is Sebas, soos ‘n goeie minnaar, besorg oor haar elke behoefte. Die pad van bed na die kamerdeur is nie sonder struikelblokke nie, want Sebas se breë agterstewe swaai voor my. Ek laat ‘n paar swetswoorde uit as ek my toon teen die bed se poot stamp omdat ek nie by hom kan verby nie. Uiteindelik kom ons by haar! Ek maak haar deur oop. In ongeduld beur sy deur. Sy is ‘n bondel opwinding en geluk – elke oggend, sonder keer. Sy gaan so te kere. Sy groet my, soen haar goue maanhaar leeu van ‘n minnaar. Blok hom met haar agterstewe, soos hy die kant toe en daardie kant toe kospotte toe wil mik. Skielik besef sy, dat sy nie die oubaas – dit is nou my man gegroet het nie. My oë rek groot, want ek het ook vergeet om die kamer deur toe te maak – dit is te laat. Sy is daar weg en teen spoed spring sy op die bed, soek sy gesig onder die beddegoed en groet hom behoorlik. Dit word gevolg met ‘n gekreun en gegil van ‘n ontslapene wat wakker geword het.
Gelukkig tree bedaringe na die eerste gegroet in en die fokus verskuif na hul kos. Ek het hulle al oortuig dat ek eers tyd moet hê om my oggend-koffie te maak. Hulle is nie gelukkig nie, maar gaan maak dan ‘n draaitjie in die tuin. Nie lank nie en die gehyg en smekende ogies is terug.
My koffie prut nou. Ek gaan haal eers die Golden Retriever se bak wat by die kombuisdeur staan (hulle kan nie saam eet nie – die liefde strek nie so ver nie). Hulle kom saam, stertswaaiend en kwylend. Ek gaan haal dan Sofia se bak by die voordeur. Ek sluit oop, hulle storm uit. Hulle maak ‘n vinnige draai in die voortuin: Alles is veilig! Voor ek by die deur weer in, is hul terug. Nou swaai die sterte eers. Op hierdie stadium hardloop Sebas by die kombuisdeur uit, sit en wag geduldig met sy pootjies saam en die wind wat deur sy welige maan waai. Sofia aan die anderkant neem deel aan die voorbereiding. Sy hou my stip dop en met haar neus maak sy 3-D afdrukke van elke koekie wat in hul bak val. Sy is te vrede. Ek het die regte hoeveelheid ingeskep en dan net nog die rou eier bo-op, vir liefde. Sy stap saam tot by die kombuisdeur en kyk verlangend hoe ek vir Sebas sy kos gee. Sluit die deur agter my.
Nou is dit haar beurt. Ek tel haar bak op. Sy skiet in die binnebaan by my
verby na die voordeur. My knie is amper
uitlid gestamp. Sy draai om, kom terug om te kyk waar ek draai. “Ek kom. Ek
kom!” sê ek. Ek sluit die voordeur weer oop. Woeps! Swiep sy by my verby, draai
en kyk vir my. “Sofia, sit.” Sê ek rustig. Sy sit.
“Sofia sê goeie môre.”
Sy lig haar groot swaar linkerpoot flink op en groet my. Na ‘n paar sekondes se
gewag sit ek haar bak neer en die feesmaal begin.
Dit is nou net voor vyf. Ek skink
vir my en my man koffie. Die honde is klaar geëet ek laat hulle in. Ligte is
net op strategiese plekke in die huis aan. Ek skuifel terug kamer toe met die
koffie. Die honde volg my.
“Naas, wakker word. Hier’s jou koffie.”
“Dankie, mys!” (‘n troetelnaam wat ek al vir 26 jaar ignoreer, maar wat
anders moet hy my nou noem.)
Ek klim in die bed. Hou my beker koffie in albei my hande vas. Sebas tol
drie maal op sy matrassie op die grond om en kry dan sy lê. Sofia, in al haar
wysheid, spring op ons koningsgrootte bed en krul langs my voete op. ‘n
Behaaglikheid het nou oor ons neergesak. Lekker knus in die halfdonker sit ek
en teug aan my koffie vir so halfuur voor my dag begin.
Opmerkings
Plaas 'n opmerking