Om Paasfees te dekoloniseer...

 

Om Paasfees te dekoloniseer…

Jô, hier bevind ek my in warm water, veral by diegene wat moeg is vir die woord dekoloniseer.

Ek word vanoggend wakker op Goeie Vrydag en let op dat die son lui geword het en al langer neem om agter die berge op te kom. Ek sien die plante in my tuin wat net te graag hul somer tooisels wil afskud en ‘n bietjie gaan rus. Ek voel die spanning in my van ‘n jaar wat reeds goed opdreef is. Tog, vier ek vandag die begin van die Paasnaweek. Vir baie die eintlike hoogtepunt van die kerkkalender. Paasfees bring ‘n boodskap van vergifnis, genade en ‘n baie belangrike wedergeboorte.

In Europa, het die viering van hierdie Christelike tradisie parallel begin loop aan die eeue oue viering van die natuurgodin van lente, Eostre. Dit is hoe ons daarby uitgekom het om hasie op alles te teken en kleurvolle eiers in die tuin te soek. Hasies is geensins so volop in Afrika nie en in Australië was die kreatuurtjies vir lank ‘n uitheemse verpesting. In Europa maak die samesmelting van die tradisies heeltemal sin, want dit gaan hand-aan-hand met die wesenlike ervaring van die komende lente. Die natuur se wedergeboorte versterk die boodskap van opstanding uit die dood. Paasfees bring in Europa nie net abstrakte boodskap van opstanding en wedergeboorte nie, maar dit word wesenlik geanker in dit wat Europeërs om hulle sien – die dag en die son se strale wat langer word, groen blaartjies wat deur die aarde se kors breek en voëltjies wat terugkom. Die genade is voelbaar.

In die tyd wat ek in Europa gebly het, het ek self ervaar hoe Paasfees en Kersfees net meer sinmaak en die dieper waarde daarvan nie net op geestelike, maar ook konkrete vlak navore kom. In Afrika, en ek skat al die lande in die ontwikkelende Suide, gaan hierdie dimensie van die feeste verlore. Feeste en rituele is daar om mense te anker en te versterk in geloof. In Afrika is die feeste op die kalender uitpas uit. Dit hoort nie in die tyd wat ons dit vier nie. Paasfees hoort in September en Kersfees in middel-Junie vir dit om enigsins dieselfde boodskap op ‘n geestelike en fisiese vlak oor te dra as wat dit in Europa oordra. Die kalender kan ons egter nie verander nie. Afstigting van die kalender sal definitief globale markte en bemarkingsveldtogte beïnvloed.

Die feeste is eintlik op ‘n meer siniese noot vir die ontwikkelende Suide eintlik ‘n permanente herinnering dat hulle uitpas is, altyd ‘n bietjie agter op ‘n ander se kalender - `n buitestaander wat hoop om mee te doen. Eintlik is die feeste `n herinnering aan die koloniale verlede. Vandag is die Christendom ‘n globale godsdiens wat honderde jare gelede deur koloniale oorheersers versprei is. Dit is gebruik om te onderdruk, en die mense van kolonies sondig te laat voel sodat hulle nie hul koloniale onderdrukkers kon bevraagteken nie. Saam met kolonisasie het die feeste gekom wat in eie reg mooi boodskappe van hoop, verlossing, genade en wedergeboorte gebring het. Soveel soos wat die feeste vir jare mense uit die kolonies uitpas kon laat voel het, het die boodskap van die feeste in die konteks van kolonies die inheemse mense begin bewusmaak van ‘n boodskap van verlossing en begin aanmoedig om wesenlik bevryding te soek en as `n groep mense wedergeboorte te ervaar.

Dit is hoekom ek `n pleidooi wil lewer dat vir die ontwikkelende Suide Paasfees gedekoloniseer moet word om wesenlik betekenis te kry. In Afrika en as mense van Afrika is dit vir ons makliker om in ons eie kapasiteit die historiese Jesus se lydingstydperk te verstaan. Die oorweldigende skuld, sonde en verdeelheid van die verlede wat in ons konteks hang, wat ons ook op ons moet neem soos die historiese Jesus (in baie gevalle faal ons daarin, want dit verg goddelike krag en begrip) maak die lydingstydperk van Jesus vir ons voelbaar. Die boodskap van Paasfees  is vir ons `n fantasiese boodskap van hoop en genade. Ons kan Jesus se pyn en lyding in ‘n hopelose gebroke samelewing verstaan. Ons kan die genade en loskoop voel as Jesus ons sondes op Hom neem. Ons weet hoe dit voel om soms godverlate te voel en ons verstaan die boodskap van wedergebore wees as mense, en as nasie. Ons weet wat die beteken om weer ‘n kans te kry om met mekaar oor die weg te kom en mekaar in deernis te ontvang.

Paasfees se boodskap in die ontwikkelende Suide word wesenlik in ons geskiedenis en die wete dat God daagliks saam met ons stap en dat selfs al voel ons soms godverlate ons nie is nie. God het sy enige gebore seun gestuur om ons verdeeltheid, ons haat, ons hartseer en ons onvervulde drome op Hom te neem sodat ons die ewige lewe kan kry, maar ook dat ons na mekaar kan kyk en weet ons is almal EEN in die genade wat ons saambind.

Kom ons laat hasies en eiers in ‘n ander kontinent en dekoloniseer die boodskap van Paasfees om ons, die sogenaamde uitpas gemeenskappe van die Suide, saam te bring om braaivleisvure en in ons alledaagse doen en late.

Toe antwoord die hele volk: “Laat die skuld vir sy bloed op ons en ons kinders rus!”
Pilatus het Barabbas toe vir hulle losgelaat; maar Jesus het hy laat gesel en hom uitgelewer om gekruisig te word.

Matteus 27: 22- 26

Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Hoekom het jy bestaan jou boggelrug-spoegbek-sussie van my?

Van vergroeide graf tot graf: Die vergete vroue-voetspore deur ons erfenis.