Boekevat
My ma was ‘n enkelmoeder en
onderwyseres in die dae toe skole nog oorheers is deur ‘n sterk patriargale
stelsel. Nee, wat praat ek dit was nie net die skool nie, maar die kerk en hele
samelewing ook. Die hemel en hel was nog
nooit so naby aan ons, soos in daardie dae nie.
Dit is hoekom kerk toe gaan en jou saak reghou vir die onvoorsiene so
belangrik was. Ongelukkig was my ma oorweldig deur haar lewe, as onderwyser het
sy elke dag skool toe gejaag en laat huis toe gekom. Saterdae was gevul met
sport en Sondae was nou regtig die eerste dag in die week wat sy bietjie kon
inlê, maar o weë, die kerk – daarvoor was ons ook dikwels laat.
Nou het my ma ook drie dogters
en ‘n ou gestremde enetjie gehad en hulle moes op die smalweg gehou word. Om haar plig na te kom het sy ons dan
Sondagskool toe gery. Ons het buite
gesit, soos die stouterts wat nie verby die hekke van die hemel kan sien
nie. As die kerk klaar was, het ons
mooitjies saam met die stroom gevloei en klassies toe gegaan. As kinders was ons heel gelukkig met die
stand van sake, maar my ma is in ‘n staat van lamentasie gedompel: “Sy is ‘n
swak Ma. Haar kinders raak herderloos
groot. Die verderf kom al nader.”
Haar oplossing was dat sy die
kerklike opvoeding self moes onderneem en gevolglik as ons die Sondag kerk
gemis het, het ons boekevat die aand gehou.
Dit was self nie te sleg nie, maar die jaar wat my oorlede pa se ma by
ons kom woon het, het boekevat ‘n heel ander dimensie aangeneem. Kyk, die ouma
van my het haarself as sopraan, cum
diva beskou. Sy sou hoë note in ‘n lied
inwerk al was hulle nie oorspronklik daar nie.
As sy “Ek sien ‘n nuwe hemel kom” begin sing het, het dit geklink asof
sy die leër hemel toe wil klim. Ons het
gewoontlik in ‘n kakofonie om haar losgebars; heel gepas vir mens wat so naby
aan die verderf rond dobber.
Erger nog was die gebed, soos
so baie ou mense het sy die gebed beskou as ‘n geleentheid waartydens sy ander
se redding kan bewerkstellig, maar ook haar eie vroomheid kon ten
toonstel. Ons moes hande vashou en ‘n
heilige kring vorm. My ouma was
vasberade dat sy darem dié een ding vir haar seun sou doen; sy sou hierdie
gesinnetjie van die verderf red. Sy het
met mening gebid vir die honger en verlate, die enkelmoeders, moeilike kinders
en daardie gestremde enetjie of soos sy eufemisties na haar verwys het, die
engelekind. Sy het so lank gebid dat die palms van my en my susters se hande al
warmer en sweteriger geword het. Sy het met soveel melodiese melodrama gebid
dat klaasvakie ons in een of ander heilige slapie wou weglok, maar ons het dit
weerstaan. Instede het die duiwel
dikwels in my en suster ingevaar en ons het om die beurt in klein stotterende
hoesbuitjies uitgebars. Ek het baie sleg
gevoel vir my gedrag as ek so tydens gebed die frons en sweet op my ma se
voorkop sien uitkom het. Ek het besef sy
was teleurgesteld en dat sy net so min beheer het oor die koers wat die ou
tante se gebed sou inslaan as ons. “AMEN!” het gewoontlik groot verligting vir
ons almal gebring.
My ma het egter altyd seker gemaak
dat dit SY is wat skriflesing hanteer en nie haar oorlede man se ma nie. Dit
was immers haar kinders. Ja, en my ma het nie veel van Barth of Bonnhoefer
geweet nie, maar sy het altyd ‘n teologie van genade en nederigheid aan ons
oorgedra. My ma het nie veel geweet van
epistologie of die teks-immanente betekenis nie, maar sy was ‘n letterkundige
en kon haar kennis gebruik om die karakterontwikkeling van die “Verlore Seun”
te analiseer en die liefde van die “Vader” aan ons oor te dra. Meeste van my ma
se teologie het van voetsoolvlak na ons gekom: Van daardie vlak waar twee sente
bymekaar geskraap is om Wilson-toffies en Coke te koop; van daardie vlak waar
sy nie regtig weet waar sy die geld vir die volgende rekening gaan kry nie; van
die plek waar sy wonder of die R10 in haar beursie genoeg is om die week se kos
te koop. Sy het egter geglo en haar geloof aan ons oorgedra. Sy het geglo in die Here se
voorsienigheid. Sy het geglo dat as die
nag op sy donkerste die dag naby is en dat God jou tafel voorberei in die
aangesig van jou vyand. My ma het my tydens Boekevat geleer dat die Here
sorg. Die Here het my gewys dat as jy
glo, kom daardie tjekkie van belastingman wanneer jy dit nie verwag het
nie. Die Here het my gewys dat
Wilson-toffies smaak die lekkerste as jy dit met jou laaste twee sente gekoop
het. Ek is ook gewys dat jy nie altyd hoef te betaal vir vermaak nie, want elke
huis het ‘n Diva.
Ek het dalk groot geword in ‘n
patriargale wêreld waarin Meneer altyd beter weet, maar ek het leer glo aan moederskoot.
Boekevat was die sleutel wat die hekke van die hemel oopgesluit het en waar ek
die God wat mens geword het, ontmoet het.
Die God wat by jou kom sit het en saam met jou die ongemak van sweterige
hande in gebed ervaar het. Die God wat self soms gewonder het of daardie note
nie dalk ‘n bietjie te hoog is om te bereik nie. Die God wat sy arms om my ma
gesit het en haar vasgehou het as haar skoonma, haar kinders en die wêreld vir
haar te veel geword het.
AMEN
Opmerkings
Plaas 'n opmerking