God in die gewone

Die Here se toe vir Moses: “Ek het die verset van die Israelite opgemerk. Sê vir hulle: Teen skemeraand sal julle vleis eet en teen môreoggend sal julle oorgenoeg kos hê sodat julle kan besef dat Ek die Here julle God is.”

Teen die aand se kant het daar kwartels aangevlieg gekom en hulle het die hele kamp vol gesit.

                                                Eksodus 16: 11-13


God in die gewone

As mense godsdiens pleeg is hulle altyd op soek na die asemrowende. Hulle wil snak na hul asems en iets groter as groot ervaar. Die waarheid, die sin van die lewe, die kennis van goed en kwaad moet altyd met luide tromme en trompet-gesang aangekondig word. Dit kan nie net rustig na jou toe aan rimpel, oor jou spoel en jou net saggies amper onsigbaar deelmaak daarvan nie.

Dit is nie in die asemrowende nie, maar in die gewone wat die wonderwerk van die lewe lê. Dit is die eet van elke aand se aandete, die drink van daardie glasie wyn aan die einde van die dag, die kyk na die rose in die tuin en in die gepraat met jou gras dat dit net moet groei, waar die genade ervaar word. Dit is nie verniet dat Jesus, die historiese Jesus, so lekker geëet het saam met tollenaars en prostitute nie, water in die beste wyn verander het nie en sy laaste ete saam met sy dissipels gedeel het nie.

Hierdie sagte openbaring van God het ek nog nooit so duidelik ervaar soos in die harde konteks van die Stellenbosch-nagskuiling nie. Ek en my man het in ‘n jaar van onnadenkende barmhartigheid daar gewerk as opsigters. Dit mag ironies wees om die konteks as hard te beskryf, want dit is tog daar waar hawelose mense ‘n warm bedjie en dak oor die kop gegee word. Maar dit is egter in so ‘n konteks waar die skille van jou oë afkom betreffende die selfbelangrikheid van mense wat het en “gee” en die uitgeslape sluheid van diegene wat nie het nie en graag wil gebruik. 

Vandag se storie begin dalk met so ‘n sinies aanloop, maar dit eindig om die stukkie van God in ons almal te openbaar:

Ons is aangesê in die nagskuiling om alle skenkings wat gemaak word met ‘n glimlag te aanvaar of dit nou klipharde baksteen beskuit, ou klere of sop is. Dit was my en my man se voorreg om eendag juis so ‘n verrassing-besending wat nie geweier kon word nie te ontvang. Max, ons Jack Russle, het opgewonde rondgespring langs die twee bebloede koringsakke met hul spesiale inhoud. Ons het die sakke oopgemaak om daar binne tientalle kwartels met vere, bekkies en pootjies steeds aan te vind. My opgewondenheid was onbeteulbaar, want ek kon myself sien voëlkoppe en –pote afkap dat die biessies bewe.  My man, wat my vreugde kon aanvoel, besluit toe dan en daar dat daar gebraai sal word en dat die skuilinginwoners sal pluk, ontbek en skoonmaak. Daardie aand is daar gevolglik voëls gepluk dat die vere waai, sommige inwoners het hulselfs tot van ‘n benewelde toestand in ‘n nugter toestand ingepluk. 

Tussen die vere wat gepluk is, is daar onder die sterre baie lekker gesels en gelag.  Daar was ‘n gevoel van samesyn onder hierdie groep minder as edel haweloses, maar eintlik tussen ons almal –opsigter en inwoners. Dowe Fransina het uitgeblink as hoofplukker. Sy het daardie voëltjies met amper outistiese vaardighede ontveer.  Duskant haar het die skoorsoeker, Kathrina Links gesit; haar voëltjies se vere wou nie so mooi saamwerk nie en daar was later meer vere op haar as wat daar van die voëls gepluk was.  Fransina is natuurlik daarvoor blameer. Tog op hierdie aand was daar meer om oor te lag as te baklei.  Die mans het ook hulle deel moes doen met die skoonmaak en braai.  Almal het egter saamgestem dat Willem Prins wat altyd omring was met die walms van blou spiritus eerder moes vere pluk as om langs die vuur te staan en te braai.

Later die aand het elkeen gesmul aan ‘n kwartel eerder as sop – amper asof dit ‘n geskenk uit die hemel is. Hierdie periode van eet, geniet en rustig wees na die besige voorbereidings het altyd sy eie bekoring.  Dit is dan wat jy kan voel dat daar geen onderskeid tussen mense is nie.  Daar is nie ‘n Jood of ‘n Griek nie en ook nie man of vrou wat nie almal eweveel hulself kan verlustig in die gawes van God nie. Tussen kwartel vlerke wat kraak onder die tande en vleissappe wat die mondhoeke bevogtig kon ons daardie aand amper onsigbaar en sonder die geraas van godsdiens die genade van God waarneem.  Dit was ‘n sagte rimpelling en teenwoordig in elke glimlag, elke sug en elke oomblik van samesyn.

Hierdie geseënde aand is al baie lank in die verlede, maar die gedagte daaraan kom jaarliks na my toe terug.  Daar was soveel wat ek uit hierdie aand geleer het oor samesyn, aanvaarding, waardering en oor God. Jy sien, God is asemrowend, maar nie omdat hy in die asemrowende gevind kan word nie. God is asemrowend, omdat as jy jou oë oopmaak sal jy Hom sien...daar in die gewone.


Opmerkings

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Moderne Slawerny

Hoekom het jy bestaan jou boggelrug-spoegbek-sussie van my?