"Sê nie nog 'n woord nie"
Die Afskeid |
Sê
nie nog ‘n WOORD nie.
Daar is niks in die lewe wat
mens so magteloos kan laat soos die ellende van ‘n ander nie. Dit is eintlik ‘n
ongemaklike ding. Dit is soos om tiener te wees as jou bene en arms op
verskillende stadiums buite verhouding lank is. Die ergste van ‘n ander se ellende
is dat jy tot byspeler gereduseer word.
Dit is dikwels jou drang om
nie onbelangrik te wees nie wat mens op ‘n baie lomp manier noop om te probeer
om een of ander kitsoplossing te soek of met behulp van getroue godsdienstige
clichès vertroosting te probeer bied. ‘n Regte staatmaker met die aanskoue of
aanhoor van ‘n ander se ellende, is gewoontlik die teksie wat handel oor hoe
“mens nou in ‘n spieël kyk en gedeeltelik sien” - en natuurlik sien jy nie die
hele plan nie. ‘n Ander gunsteling wat met goedkoop sielkunde die arme
ellendeling moet vertroos, is die frase dat God nie hierdie lydingsbeker op sy
pad sou plaas as Hy nie gedink het dat hy dit kon hanteer nie. Ongelukkig leer
‘n ander se ellende mens dikwels op ‘n harde manier dat daar geen kitsoplossing
of vertroosting in clichés is nie.
Ek het hierdie lessie swaar
geleer van een van die mees betekenisvolle mense in my lewe, my ma. Dit was my matriekjaar en ek soos so baie
ander tieners was in ‘n opregte fundamentalistiese fase van my Christenskap. Die lewe was swart en wit en oplossings
eenvoudig as jy net (wil) glo. My ma aan
die anderkant was ‘n moeë 44. Diep
gelowig maar met ‘n lewe wat glad nie so idillies verloop het as wat sy voor gehoop
het nie. Haar man is na sewe jaar se huwelik oorlede en haar jongste dogtertjie
serebraal gestremd. Vir sestienjaar het sy
doeke omgeruil, die kindjie gevoer en langs die dogtertjie van haar geslaap. Sy het hard gewerk, soos hulle sê in die
sweet van haar aangesig, totdat dit net slaap was wat verlossing – ontvlugting
kon bied. Sy het hard probeer om al haar
kinders godvresend en kerkgaande groot te maak, maar die moegheid en die
oorweldigende realiteit het haar laat gemaak... elke Sondag, maar net betyds
vir Sondagskool. Sy het gesorg dat haar
kinders se beginsels reg is, maar in daardie jaar, my matriekjaar het haar
realiteit net te geweldig vir haar geword. Die vloedgolf van die realiteit het
haar oorstroom en sy was besig om te stik, te verdrink aan hierdie harde
werklikheid. Haar jongste, haar edelste
en mooiste dogtertjie – haar lewe – was aan die sterf. Sy het geweier. Dit is haar kind.
Ek moet erken dat op daardie
stadium, hoewel diep getref deur my suster se hopelose situasie, ek nogal heel
opgeskeep en beïndruk met myself was. Ek
het matriek geskryf en die wiel ontdek.
Ek is aangeneem in die Kerk en ek het die nou en reguit paadjie geloop. Gereeld my Bybel gelees en gebid. Dit is met hierdie oordrewe sin van
godsdienstigheid wat ek na my ma gegaan het.
Vas oortuig as sy net hierdie versie lees sal alles sin maak en sal sy
oombliklik vertroos wees. My ma het nog
nooit een van haar kinders weggejaag of afgejak nie, maar ek het dit op daardie
oomblik verdien. Sy het my weggestuur met die woorde dat sy regtig nie nou
daardie bybelverse wil aanhoor nie.
Ek was seergemaak, maar my
fundamentalistiese bybelvers-kitsoplossing skille het daardie dag van my oë
afgeval. My ma was aan die ly. Sy was
deur God verlaat. Sy het nie God vergeet nie en het nie ophou glo nie, maar sy
was verlaat. Hy was besig om van haar
weg te vat dit wat sy sestienjaar versorg het.
Hulle kon nie “vriende” wees nie. Sy was alleen. Sy moes ook so wees. In
daardie toestand en ruimte is daar nie plek vir bybelverse en teistering met
godsdienstige cliches nie. Dit is ‘n ruimte waar daar net plek is vir stilte en
‘n omarming van jou smart en verlatenheid.
Dit is nie ‘n ruimte vir ander nie.
Dit is heilig. Jou stryd met God
en sy stryd met jou. As die stryd verby is en die reën neergesak het oor jou
siel sal jy weer kan hoor, weer kan sien en weer kan weet dat God by jou was.
Ek kan nie anders as om aan my ma
te dink as ek deesdae mense se ellende moet aanhoor en aanskou nie. As gevolg
van haar kan ek ook nie anders as om te besef dat die plek waar hulle is nie ‘n
plek vir geraas en advies is nie, maar eerder ‘n plek van stilte, want God is
reeds daar.
Uit die dieptes roep ek na U, Here
luister tog na my, Here
hoor tog my hulpgeroep.
As u ons sondes
in aanmerking sou neem, Here
wie sou dan nog bestaan?
Maar by u is daar vergifnis:
daarom word u steeds gedien.
Ek stel my vertroue in die Here
ek vertrou op Hom,
Ek wag op die Here
meer as wagte op die more wag,
wagte op die more.
Wag op die Here, Israel,
want by die Here is daar troue liefde,
by Hom is die verlossing seker.
Hy alleen sal Israel verlos
van al sy sondes.
Psalm 130
Opmerkings
Plaas 'n opmerking