Wie is ek?

 

Wie is ek?



Ek is ‘n gelowige:

Ek glo in God en Genade;
Ek glo in medemenslikheid en kompassie;
ek glo in sorg en beskerm;
ek glo in Lewe

Ek is ‘n Afrikaner,
maar nie ‘n boerdogter nie,
ek hou van my baie moderne en eg kreoolse taal,
ek hou van hoe jy net behoorlik hardegat in hom kan wees,
ek hou van hoe my taal my behoefte na isolasie,
maar ook Vryheid verstaan,
Ek hou van hoe my taal my op ‘n bittersoet wyse
in skaamte en met trots, bind aan die grond
en aan die ander hier op die kontinent van Afrika.

Ek is ongelukkig ‘n kleur,
wit of is dit nou perske en soms ‘n bietjie blou.
Ek kan nie my skakering, disposisie, my herkoms en
gedeelde geskiedenis met Europa en koloniale onderdrukking ontken nie,
ek is met skuld, tog dankbaar vir die reddingsboeie wat dit aan my toekoms gebied het,
want verwerskind en hoedemaaksters sou ek nie wou bly nie.
Dit is egter my kleur wat die aarde onder my voete lava maak
en my pogings om te kommunikeer, uit te reik en by te dra
verander in as wat wegwaai in die wind van Afrika.

Ek is vrou,
ja, dit is ek wel!
Ek ken die pyn van uitgesluit wees,
as minder gesien word,
die gevolge van vroulike vrugte wat ongeoorloofd en met geweld gepluk is.
Ek ken die passie, die sorg, die trane en volharding wat ‘n vrou se lewe daagliks rig.
Ek weet ook dat sonder Adam sukkel Eva om snags te rus.

Ek is ‘n kind van my aarde
en sonder die berge
en sonder die re
ën en son,
raak ek afgestomp en dom.
My omgewing bepaal my,
dit maak my glimlag en we
ën,
dit maak my verwonderd staar na alles om my heen.

Ek is ‘n kind van Vryheid
en soos een van my land,
definieer die soeke na hierdie ondefinieerbare ideaal
die pad waarop ek dwaal.
Ek kan jou nie vertel presies wat dit is nie,
maar soos almal in my land weet ek presies
as dit weggevat word deur ‘n beleid of ‘n kwaal.

Wie is ek?
Ek is soos baie ander,
meer as wat jy sien
en meer as dit wat was,
maar tog is ek gevorm, gebeitel en geboei
deur my taal, my kleur, my geslag, my land

…en my verlede.

 

                                                Deur Karen Swart




Opmerkings

Plaas 'n opmerking

Gewilde plasings van hierdie blog

Die sagte rimpeling van verandering...

Moderne Slawerny

Hoekom het jy bestaan jou boggelrug-spoegbek-sussie van my?